Reusevrag renosterhoring op lughawe gekry

(Argieffoto ter illustrasie: Unsplash)

Die owerhede by Singapoer se Changi-lughawe het Dinsdag op ʼn beduidende hoeveelheid renosterhoring, ter waarde van meer as R14 miljoen, beslag gelê.

Volgens die land se nasionale parkeraad het ʼn verdagte probeer om altesaam 20 stukke horing, wat in totaal 34 kg weeg, uit Suid-Afrika die land in te smokkel.

Snuffelhonde het op die twee sakke vol renosterhoring afgekom. Die sakke behoort glo aan ʼn passasier wat via Singapoer na Laos wou reis. Die persoon is egter in hegtenis geneem ná die ontdekking.

“Dit is die grootste vrag renosterhoring nóg waarop daar in Singapoer op beslag gelê is,” het die parkeraad in ʼn verklaring gesê.

Renosters word beskerm ingevolge die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora (CITES) en internasionale handel in renosterhoring word hiervolgens verbied.

Genetiese toetse word nou op die gesmokkelde horing uitgevoer om die spesie van die renosters te bepaal. Daarna sal die horing vernietig word om te verhoed dat dit op een of ander manier weer die onwettige handelmark betree.

Renosterhoring word as statussimbool beskou en talle mense in Asië glo dit het medisinale eienskappe. Dit word ook gebruik in juweliersware en huishoudelike items, insluitend kamme, knope en gordelgespes en is dus in groot aanvraag.

Die Switsers gebaseerde Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) het in Augustus gesê stropery en die onwettige handel in renosterhoring het die afgelope jaar afgeneem, maar tog word renosters se veiligheid erg bedreig.

Barbara Creecy, minister van bosbou, vissery en omgewingsake in Suid-Afrika, het vroeër onthul dat altesaam 259 renosters in die eerste ses maande van die jaar in die land gestroop is. Boonop is daar minder as 2 500 renosters in die Krugerwildtuin, een van Afrika se grootste nasionale parke, oor.

Meer as 2 700 renosters is tussen 2018 en 2021 in Afrika gestroop, waarvan 90% in Suid-Afrika, hoofsaaklik in die wildtuin, doodgemaak is.

Kenners het verlede maand tydens Wêreldrenosterdag benadruk dat daar meer gedoen moet word om renosters te bewaar as om bloot net stropers te vang – veral omdat Suid-Afrika die tuiste van byna 80% van die wêreld se renosterbevolking is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

007 ·

Hoe is daai horings uit SA gesmokkel? Doane doen nie hulle werk nie. Of daar is ‘n hoër hand of hoed betrokke.

JohanR ·

Soe die vrag horings is uit SA uit sonder dat die renoster horings gekry is, maar dit is toe in Singapoer gekry. Waar was die snuffel honde in SA, of was dit al weer ‘n verneuk spul in SA aan die gang? Moenie daai een check nie ouens laat hom maar net deur.

Chris dupreez ·

Dit moet weer die SAP word, toe het dit nog gefunksioneer

Leon ·

Hoe het dit die land , dis nou SA ongemerk verlaat ?????????

Astrain ·

Hulle vat my buis tandepasta by my af by lughawe sekuriteit maar NIEMAND KRY ‘N SAK VOL RENOSTER HORINGS NIE??? WDH???

Lillian ·

Mostert na die maal … dit help veel hulle word nou gevang, die diere het reeds geboet met hul lewens. Doane amptenare doen nie hul werk nie.

Niklaas ·

Ek dink die snuffelhonde by SA lughawens is net so vaak soos hul base of hanteerders. Dis oordraagbaar so ‘n louwarm werks etiek. Hoekom het ons dit gemis , maar dit word opgetel in Changi , Singapoer en dit was een reuse besending. Dalks het die Afrika saluut (dink aan oop handpalm) die deurlaat dinge weer hier laat gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.