Roetine malaria-inentings begin in Afrika

Malaria-inentings (Foto: Nipah Dennis via Gavi Vaccine Alliance)

Ná ʼn suksesvolle loodsprogram, is die wêrelde se eerste WGO-aanbevole malaria-inentings deur immunisasieprogramme reg oor Afrika toegedien.

Die inentingsveldtog het in Kameroen begin en inentings sal oor 42 gesondheidsdistrikte toegedien word, gekies in die volgorde waarvolgens die mees kwesbare kinders teen dié siekte beskerm kan word.

Aurélia Nguyen, hoofvan die program by Gavi, die Vaccine Alliance, sê malaria eis jaarliks te veel sterftes. “Meer as ʼn halfmiljoen kinders jonger as vyf net in Afrika. Vandag is ʼn geskiedkundige mylpaal, aangesien ons uiteindelik ʼn nuwe instrument het in die stryd teen ʼn siekte wat veral die Afrika-vasteland raak.”

Meer as 95% van malariasterftes wêreldwyd word in Afrika aangemeld.

“Kameroen word vandag die eerste land in die wêreld om met roetine malaria-inentings te begin. Die RTS,S-inenting word in 42 distrikte toegedien, dié met bevolkings wat die hoogste risiko het. Die inentings sal toegedien word aan alle kinders wat daarvoor in aanmerking kom en by klinieke instap.”

Malariagevalle en -sterftes het sedert 2017 in Kameroen toegeneem. Byna 30% van alle hospitaalkonsultasies hou met malaria verband. “Inentings sal lewens red en groot verligting bied vir gesinne en die land se gesondheidstelsel.”

Nguyen sê sowat 20 Afrika-lande het planne om vanjaar nog met die program te begin om uiteindelik meer as 3 miljoen kinders te bereik. Sommige lande het reeds hul inentingsdosisse ontvang. Dié doelwit hang af van die beskikbaarheid van die tweede WGO-goedgekeurde malaria-inenting en lande se vlak van gereedheid.

Meer as 30 Afrika-lande het egter hul belangstelling aangedui in ʼn roetine malaria-inentingsprogram.

“Alhoewel Gavi ten volle gefinansier is vir sy huidige strategiese periode, wat in 2025 tot ʼn einde kom, moet ons seker maak dat finansiering in plek is vir die volgende vyfjaarperiode (2026 tot 2030), sodat dié noodsaaklike werk in die toekoms kan voortduur,” het Nguyen bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrik ·

Sover ek weet het hierdie malaria inenting die volle periode van ontwikkeling gevolg. Die ontwikkeling het ‘n tydperk van 60 jaar plaasgevind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.