SA diamant vir miljoene opgeveil

The Rock-diamant. (Foto: Fabrice Coffrini/AFP)

ʼn Reusagtige wit diamant wat meer as 20 jaar gelede in Suid-Afrika gemyn en skoongemaak is, is Woensdag vir miljoene rand opgeveil.

Die diamant van 228,31 karaat is deur die Christie’s-veilingshuis in Genève, Switserland, vir 21,7 miljoen Switserse frank (CHF) – of amper R355 miljoen verkoop.

Die diamant, wat die bynaam The Rock gekry het, is die grootste van sy soort wat al ooit opgeveil is, maar dit kon nie die wêreldrekord vir die duurste wit diamant inpalm nie. Die duurste wit diamant, ʼn knewel van 163,41 karaat, is in 2017 in Genève vir $33,7 miljoen (sowat R546 miljoen) opgeveil.

Woensdag se bod het op CHF14 miljoen begin, maar het ná net twee minute op CHF18,6 miljoen tot stilstand gekom. Die prys het eindelik tot CHF21,7 miljoen gestyg nadat die koper se premie bygevoeg is. Die voorverkoopskatting was aanvanklik geraam op tussen CHF19 miljoen en CHF30 miljoen.

The Rock, ʼn perfekte simmetriese peervormige diamant, is deur die anonieme Noord-Amerikaanse eienaar verkoop. Dit is deur ʼn private versamelaar gekoop wat telefonies daarop gebie het.

Hoewel The Rock nie die algehele rekord laat spat het nie, meen Rahul Kadakia, Christie’s se internasionale hoof van juweliersware, dat dié diamant wel ʼn nuwe wêreldrekordprys per karaat vir ʼn G-kleur-diamant opgestel het. Diamante word in kleur van D tot Z gegradeer.

“As jy kyk na die prys per karaat – 100 000 per karaat – is dit die vlak van ʼn D-kleur‑diamant, en ons het dit bereik vir ʼn G-kleur‑diamant; ons is dus eintlik baie bly oor die uitkoms van die veiling.”

Max Fawcett, hoof van die juwele-afdeling by Christie’s-veilingshuis, het gesê daar is slegs ʼn handjievol diamante van soortgelyke grootte en gehalte as The Rock.

Die groot diamant is in die vroeë 2000’s by ʼn myn in Suid-Afrika ontgin en is in Doebai, Taipei en New York vertoon voor die verkoping in Genève.

Rooi Kruis-diamant

Die Rooi Kruis-diamant. (Foto: Fabrice Coffrini/AFP)

The Rock is saam met ʼn historiese geel diamant verkoop wat al langer as ʼn eeu met die Rooi Kruis verbind word.

Die kussingvormige Rooi Kruis‑diamant van 205,07 karaat is vir CHF14,2 miljoen verkoop – veel meer as die aanvanklike skatting van CHF10 miljoen.

ʼn Groot gedeelte van die opbrengs van die transaksie sal aan die Internasionale Komitee van die Rooi Kruis geskenk word.

Die diamant is oorspronklik in 1901 in ʼn De Beers-myn in Suid-Afrika gevind en het na bewering ongeveer 375 karaat geweeg.

Dit is vir die eerste keer in 1918 deur Christie’s in Londen te koop aangebied en is vir £10 000 (amper R200 000 in vandag se terme) verkoop. Dit is weer in 1973 deur Christie’s in Genève verkoop vir CHF1,8 miljoen (byna R30 miljoen).

“Ons is bly dat ons weer dié diamant, met 104 jaar se geskiedenis, aan ʼn private versamelaar kon verkoop,” het Kadakia gesê.

ʼn Tiara wat aan prinses Irma von Fürstenberg (1867-1948) behoort het, is ook tydens die veiling verkoop. Von Fürstenberg was ʼn lid van een van die mees vooraanstaande aristokratiese families in die Habsburgse ryk in Oostenryk.

Die tiara is vir CHF2,4 miljoen (byna R40 miljoen) verkoop.

Prinses Irma von Fürstenberg se tiara. (Foto: Fabrice Coffrini/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Miena ·

Lyk my daar is iets verlore hier en daar op die tiara…en hy blink nie eers nie lyk asof hy besig is om te roes

piet ·

Die onderstel lyk beslis nie vlyend nie. Iemand het dus sopas ‘n draadkar vir R40 miljoen gekoop. LOL

Mallie ·

Moenie dat die kaders dit hoor nie, anderd pokket hulle weer.

Kirst ·

Darem ongelooflik hoe De Beers deur slim bemarking aan gesteentes onskatbare waarde toegevoeg het. Afgesien daarvan dat diamante baie hard is en blink, het hulle eintlik min waarde. As dit nie vir De Beers se Diamonds are forever slagspreuk en bemarking was nie, is hulle dalk net vir boorpunte gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.