SA speel diplomatieke dobbelspel met Rusland

Russiese minister van buitelandse sake Sergei Lawrof en Suid-Afrikaanse minister van internasionale betrekkinge Naledi Pandor tydens die mediakonferensie Maandag (Foto: PHILL MAGAKOE / AFP)

Sergei Lawrof, Russiese minister van buitelandse sake, is Maandag deur sy Suid-Afrikaanse eweknie, Naledi Pandor, op eie bodem vir samesprekings ontvang.

Rusland het Oekraïne verlede jaar op 24 Februarie ingeval en ʼn wêreldwye diplomatieke konflik het sedertdien ontstaan. Suid-Afrika weier om Russiese aggressie in die Rusland-Oekraïne-konflik te veroordeel, en die Suid-Afrikaanse regering se gul ontvangs van Lawrof het onder sommiges kritiek uitgelok terwyl ander die besoek bloot as die normale versterking van diplomatieke bande sien.

Kritiek van Westerse nieukolonialisme

Tydens hul gesamentlike mediakonferensie Maandag het Lawrof groot kritiek teenoor die Weste uitgespreek. Lawrof het enersyds Rusland se huidige optrede teenoor Oekraïne regverdig en andersyds die Weste kasty oor sy eie aggressorskap op die internasionale verhoog.

Lawrof het uitgewys hoe die Weste dikwels onder die vaandel van demokrasie en liberalisme in nieukolonialistiese styl by veral ontwikkelende state se funksionering inmeng. Daar waar Westerse state inmeng, geniet hulle ook geringe sukses om beter omstandighede agter te laat as wat hulle gekry het.

“Lawrof is ʼn ou kalant. Fyn geslyp en hy weet waarvan om ander te beskuldig,” verduidelik Rentia Pretorius, kenner in internasionale verhoudinge en dosent in politiek aan Akademia. Lawrof poog hierdeur om sy vyand in hul eie taal van demokrasie by te kom.

Die vraag is egter hoe geldig dié kritiek van Lawrof werklik is – selfs al is dit ook slim Russiese propaganda.

“Die VSA, China, Rusland, Europa en ander rolspelers probeer almal hul eie belang bevorder en globale invloed verhoog. Die Weste is nie meer skuldig as Rusland of China nie. Om die waarheid te sê, die Weste is meer deursigtig in hulle benadering tot byvoorbeeld Afrika as Rusland en China,” meen Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging.

Kleynhans verduidelik verder: “Soos wat die VSA ʼn groot fout gemaak het om twee dekades gelede Irak en Afghanistan in te val, is Rusland se oorlog in Oekraïne sonder enige regverdiging. Dit gaan suiwer oor mag en invloed.”

Pretorius is dit met Kleynhans eens dat daar geen rasionele verdediging vir Poetin se inval in Oekraïne is nie.

“Inteendeel, dit vergelyk besonder sterk met Hitler se inval van Pole in September 1939 wat die Tweede Wêreldoorlog veroorsaak het. Poetin is nóg ʼn boelie met persoonlike ambisie.

“En dan kom [Lawrof] met verwysing na die Weste se ondemokratiese optrede? Retoriek wat sag op die ore val van diegene wat met hom saamstem, maar ek is bevrees ook ʼn klad is op Suid-Afrika se demokratiese beeld,” sê Pretorius.

Sergei Lawrof, Russiese minister van buitelandse sake, se besoek is veroordeel deur lede van die Oekraïense gemeenskap in Suid-Afrika (Foto: AFP)

Suid-Afrika as bemiddelaar

Pandor het Maandag weer benadruk dat ʼn diplomatieke vredesoplossing die regte een is. Suid-Afrika het uit die staanspoor homself voorgehou as moontlike vredesonderhandelaar tussen Rusland en Oekraïne. Dit wesende een van die grootste aangevoerde redes vir die handhawing van neutraliteit.

Suid-Afrika se posisie van neutraliteit teenoor die konflik word egter telkens onder verdenking geplaas deur Suid-Afrika se oënskynlik pro-Russiese optrede.

ʼn Groot twyfelskadu word oor die posisie van neutraliteit gewerp deur aanstaande maand se militêre oefening wat saam met China en Rusland op eie bodem gehou word. Pandor het Maandag ontken dat die tydsberekening hiervan verdag is. Sy het benadruk dat Suid-Afrika as soewereine staat geregtig daarop is om militêre oefeninge met die vennote van hul keuse uit te voer.

Pandor het uitgewys dat geen vrae gevra is toe Suid-Afrika onlangs soortgelyke oefeninge met die VSA en Frankryk gedoen het nie.

Diplomatieke dobbelspel

Die vraag ontstaan waarom Suid-Afrika aanhou om homself in optrede oënskynlik by Rusland te skaar.

“Die Russe is tans sterk op soek na vriende wat […] vir hulle sal opkom. Suid-Afrika is in die kategorie van ʼn historiese bondgenoot wat ideologiese bande met Rusland behou. Daarby is Lawrof verder besig om hom te beroep op die Suid-Afrikaanse regering se eie sterk anti-Westerse houding,” meen Pretorius.

Suid-Afrika wil enersyds sy histories-ideologiese bande met Rusland behou, terwyl daar steeds baie gevestigde belange in ons betrekkinge met Westerse lande is, meen Kleynhans. In ʼn neutedop kom dit egter neer op die regering se onvermoë om die land se belange bo party-ideologiese voorkeure te stel.

“Die leierskap binne die huidige ANC-regering het ʼn ou weerwil in die wit Weste. Daarmee saam het hulle ʼn [onrealisties] romantiese beeld van Rusland. Hoewel dit moontlik sou wees om hierdie belange beide kante toe te bewaar, leun ons regering duidelik oor na die een kant,” sê Kleynhans.

“Suid-Afrika put groot voordeel uit die postapartheid benadering van Westerse lande jeens ons land. Dit sluit in gunstige handelsooreenkomste, groot beleggings uit die VSA en Europa en ʼn voortdurende poging om Suid-Afrika by internasionale forums, soos G7-byeenkomste, te betrek.

“Investering uit die VSA en Europa in ons ekonomie neem steeds toe en ons uitvoere na die VSA en Europa het verlede jaar skerp gestyg. Die Biden-admimistrasie in die VSA het ʼn strategiese besluit geneem om Suid-Afrika te prioritiseer.”

Suid-Afrika is ekonomies baie meer verbind aan die Weste as wat ons aan Rusland of selfs China is – ons uitvoere na die VSA is 20 keer meer as ons uitvoere na Rusland. Kleynhans verduidelik hoe Suid-Afrika se huidige posisionering ons egter later duur te staan kan kom.

“Republikeine op die Afrika-subkomitee van die huis van verteenwoordigers het egter genoeg gehad van Suid-Afrika se kantkiesery vir China en Rusland. Die kanse dat deure vir Suid-Afrika in die VSA en selfs Europa kan begin toeslaan, neem toe.”

In die lig hiervan sal die bilaterale samesprekings van 24 tot 28 Januarie tussen Suid-Afrikaanse minister van finansies, Enoch Godongwana, en sy Amerikaanse eweknie, Janet Yellen, ook interessant wees.

Pretorius meen dat finansiële samewering en Agoa (Amerikaanse wet oor groei en geleenthede vir Afrika) bo aan die agenda vir Godongwana gaan wees. Dit veral omdat Suid-Afrika in ʼn mate met die hoed in die hand tans staan weens ons energiekrisis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Johanna ·

Die tante van ons en haar mede maatjies Kan nie kers opsteek by die russiese oom NIE. Oppad tante jy Gaan die land verkoop aan hulle sonder DAT jy dit weet. Maar weer n paar Rand in die sak

Hector ·

Hoeveel van die diesel wat tans in Suid-Afrika verbruik word, word direk uit Rusland ingevoer? As jy hierdie vraag eerlik beantwoord, sal jy dalk heelwat meer begrip kry vir Suid-Afrika se huidige houding jeens Rusland.

Republikein in die Wes Kaap ·

Moeder Rusland verdedig haarself teen Amerika en ‘n paar volgelinge.

Thom ·

Werklik ? Met 200,000 soldate in sy buurlande en vuurpyle op woonstelblokke ?

Nommer 7 ·

Adriaan, die artikel maak ook geen melding van die 1994 Budapest Memorandum wat Rusland nooit nagekom het nie.

Andre ·

Nommer 7, ook nie van Duitsland mer Merkel en Frankryk se vredesonderhandelinge met Rusland nie.

Karlahari ·

Sien ook niks van die Holodmor volksmoord onder Stalin se bewind waar ongeveer 4 miljoen Ukraïners dood is nie.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Maar my liewe Me Pandor, die VSA en Frankryk het nie vir Oekraine aangeval nie….maar Rusland het. Jou relaas hou dus geen water nie en jou politieke onder-rokkie ten gunste van Rusland, hang maar lelik uit!

Ettienne ·

SA se posisie ten opsigte van Rusland word gebaseer op emosies, en op Westerse/ Amerikaanse propaganda wat tot hulle eie voordeel nou skielik die “etiese” drom slaan. Amerika het sedert die Viëtnamoorlog geweldig aansien begin verloor en veg vir die herstel van aansien. ‘ n Land wat onder die ” Democrats” besig is om op sy knieë te gaan.

Lillian ·

Julle kan nie eens ons land se probleme oplos nie nou steek julle jul neuse in ander se besigheid!

Eugene ·

Nooi die minister van okraiene ook vir koek en tee. Julle sal nie, want hys nie n’ komminus nie. Daai man is eerlik.

Republikein in die Wes Kaap ·

Rusland is sedert die val van die USSR nie kommunisties nie. Russe kan grond koop op die ope mark en begin boer. Opbrengste word verkoop in ope markte, soms deur korporasies. Daar is reeds aktiewe SA graanboere in Rusland wat grond huur, en mag dit na ‘n paar jaar koop. Russe besit huise en besighede. Buitelanders kan dieselfde doen, onderhewig aan regulasies. Almal kan aandele in genoteerde maatskappye koop en verkoop. Belastingwette word streng toegepas. Eiendomsreg word streng beskerm. Openbare onderwys is gratis en toegang tot mediese dienste word deur ‘n NGV skema hanteer wat beter funsioneer as in Brittanje. Korrupsie is ‘n probleem en die onafhankliheid van die regbank word soms bevraagteken, veral in sekere republieke. Daar is vryheid van geloof. Daar is persvryheid, maar vryheid van spraak is onder verdenking.

Marthinus W ·

Waarom, as Rusland hul kant van die saak stel, is dit “slim Russiese propaganada”? Nog nooit gehoor van “slim Amerikaanse propaganda” nie.

trotsNAMSA ·

Het SA se Weermag, Lugmag en andere die vermoë om saam met Rusland te oefen ? Hopenlik bring Rusland vir SA nuwe wapens, voertuie en vliegtuie. Gaan die MK kaders ook deelneem , selfs die van die ouer geslag ? :) Hoop SA se Magte leer iets van die Russiese dissipline. Eish !

Adriaan ·

In die artikel word, heel te verwagte, niks gesê oor:
a. Die Minsk ooreenkoms dat Navo nie ooswaarts sou uitbrei nie. Merkel het onlangs erken dit was nooit die weste se oogmerk om die ooreenkons na te kom nie.
b. Die Amerikaanse bio laboratoriums in Ukraine.
c. Voor die oorlog was Ukraine die korrupste land in Europa. Nou is hulle skielik helde in die weste.
d. Waar kom Zelensky, wat vir grootste gedeelte van sy lewe n komediant was, aan sy fortuin?
e. Ukraine se oorlog sedert 2014 teen die inwoners van die Donbas streek.
f. Zelensky se verbod op opposisie partye.
g. Zelensky se vervolging van die Ortodokse Kerk.

christo ·

Die ANC regering wil sy brood aan albei kante gebotter hê. Die kapitalistiese lewenstyl, sonder om daarvoor te werk, met ‘n sosialistiese / kommunistiese politieke stelsel. Die oorgrote meerderheid sit terug op hulle rûe, of maak geld deur onderduimse sindikate en bly in paleise en is nie by SARS geregistreer nie.
Hoekom het Pandor nie Rus gevra, hoekom is kookolie, brandstof en koring nou so duur nadat hulle Oekraïne ingeval het nie? Hulle verwag seker dat USAID die hongeres verniet moet voed.
Jy word aan jou vriende geken.

Thom ·

Hierdie mense se geliefde Rusland werk as volg ;
” The constant movement of several mobile crematoria is recorded in the rear of the frontline positions of the Russian invaders. This is how the Russian army command hides huge personnel losses. ” Dit is oa ook om die kompensasie aan die naasbestaandes te vermy .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.