Sean Penn vlug te voet uit Oekraïne

Sean Penn het ‘n dokumentêr in Oekraïne verfilm. (Foto: Ukrainian Joint Forces Operation press-service/AFP)

Die Oscar-bekroonde akteur Sean Penn (61) moes Maandag uit Oekraïne vlug nadat hy verlede week na die land gereis het om ʼn dokumentêr oor die huidige konflik met Rusland te verfilm.

Penn het saam met talle vlugtelinge na Pole gevlug en boonop etlike kilometers te voet na die grens toe geloop.

Die wêreldbekende akteur het Maandag ʼn foto van homself op sosiale media gedeel waar hy met bagasie langs ʼn string voertuie loop.

“Ek en twee kollegas het kilometers ver na die Poolse grens gestap nadat ek ons motor langs die pad gelos het,” sê hy.

“In byna al die motors op hierdie foto is net vroue en kinders – die meeste sonder enige bagasie en net ʼn motor as hul enigste besitting van waarde.”

Mara Buxbaum, woordvoerder vir Penn, het Dinsdag aan Sunday Times gesê dat hy en sy kollegas veilig uit Oekraïne is.

Sy het egter nie uitgebrei oor waar hy hom tans bevind nie óf oor die omstandighede rakende sy skielike vertrek uit die land nie.

Terwyl hy in Oekraïne was, het hy onder meer verwoestende tonele in Kiëf verfilm en ook met politici, joernaliste en militêre leiers onderhoude gevoer as deel van die produksie.

Penn, wat bekend is vir sy rolle in Mystic River en Milk, het verlede week die Oekraïense mense geprys as “historiese simbole van dapperheid”.

“As ons toelaat dat hulle alleen veg, is ons siel as Amerika verlore,” het Penn geskryf.

Russia Today van DStv verwyder

Verskeie sanksies teen Rusland het intussen daartoe gelei dat onder meer televisieprogramme wat vanuit die land uitgesaai word nie meer elders in die wêreld te siene is nie.

MultiChoice het Woensdag bevestig dat hy Russia Today tot verdere kennisgewing van sy Suid-Afrikaanse platform DStv verwyder het.

Dié program is normaalweg op kanaal 407 uitgesaai.

Sanksies wat deur die Europese Unie (EU) ingestel is, het daartoe gelei dat die globale verskaffer van die kanaal sy uitsaaidiens aan al sy kliënte, waaronder MultiChoice, opgeskort het.

Die EU het reeds verlede week finansiële sanksies teen Rusland ingestel, asook handel met die land beperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Aanhouer ·

Hy het maar net sy werk gedoen en toe landuit gegaan. Hy wou verseker nie daar bly tot die bittereinde en sterf in die proses nie. Die oorlog kan nog baie jare duur.

annie ·

Vlug se voet! Oekraïene loop oor van akteurs… en die hele wêreld for that matter. Dis duidelik dat ons te veel tv kyk en te min dink. Almal is al smile-ende op vlug uit die patetiese landjie met een oog op die kameras op elke hoek en draai. Dieselfde storie-tema soos in Sirië met die slinkse ideologie van Palestyne: Skryf ook ons skuld af as julle wil help. (Binnekort hoor ons dit hier.) Baie mense verloor hul lewens vir ‘n lokettreffer met Penn as die nuwe 007 met Biden wat sy wit kat streel. ‘n Groot diamant uit Rusland skitter in sy goue ring.

Jacques ·

Mooi gesê Annie: die keiser is kaal, en niemand wil dit erken nie………

Martin ·

Wat het hy gedink gaan hy nou die oorlog stop? Enigste mense van buite wat tans daar moet wees is media mense en instansies wat mediese voorrade en hulp verleen… Alles net vir ‘n bietjie sensasie. Skielik is COVID-19 op die back burner niemand praat of berig amper meer daaroor nie want dit is tans vervelige nuus.

Marthinus W ·

Met die Golfoorlog het Bruce Willis aangebied om te gaan veg. Die Amerikaanse weermag het sy aanbod beleefd van die hand gewys; hulle het geweet daar is n groot verskil tussen Hollywood-oorlog en regte oorlog. Feitlik die hele Hollywood stem Demokraat, en dis n verdere rede waarom mens nie veel vertroue in hulle het nie.

Oor Hollywood oorlogflieks: ek hou van Michael McCaffrey se resensies. Hy skryf juis n rukkie gelede dat die Pentagon graag wapentuig ens leen aan Hollywood, maar op een voorwaarde: die fliek moet Amerikaanse soldate positief uitbeeld. Daarom, selfs flieks “based on a true story” soos bv Blackhawk Down, American Sniper, ens is soos hulle rofstoei: 1% tegniek (waarheid), 99% entertainment .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.