Sanksies teen Rusland ingestel

Wladimir Poetin, die Russiese president, het Dinsdag die onafhanklikheid van die Donetsk- en Lugansk-streek van Oekraïne erken en enkele ure later sy weermag opdrag gegee om die “handhawing van vrede” in die rebelle-republieke oor te neem. (Foto: Mikhail Klimentyev/Sputnik/AFP)

Engeland het sanksies teen vyf Russiese banke en drie miljardêrs ingestel in die eerste van verskeie stappe wat gedoen word in antwoord op die Kremlin se mees onlangse optrede in Oekraïne.

Wladimir Poetin, die Russiese president, het Dinsdag die onafhanklikheid van die Donetsk- en Lugansk-streek van Oekraïne erken en enkele ure later sy weermag opdrag gegee om die “handhawing van vrede” in die rebelle-republieke oor te neem.

Rusland se departement van buitelandse sake sê hy is “vir nou” nie van plan om troepe na enige dele, benewens dié wat deur separatiste beheer word, te stuur nie.

Die stap het egter ʼn reeds spanningsvolle situasie vererger, onder meer weens ʼn reeds enorme opbou van troepe op die grens van Oekraïne.

Boris Johnson, die Britse eerste minister, het Moskou se opdrag dat troepe na die twee rebellestreke gestuur word, kort gelede as ʼn “hernieude inval” van sy westelike buurland bestempel en dit ʼn “voorwendsel vir ʼn volskaalse aanslag” genoem.

“Die Verenigde Koninkryk (VK) en ons bondgenote sal begin om die sanksies teen Rusland in te stel wat ons reeds voorberei het.”

Die sanksies teiken Russiese individue en entiteite van strategiese belang vir die Kremlin. Verdere sanksies kan blitsig in werking gestel word indien die Kremlin enige verdere aggressie wys in wat Johnson ʼn “uitgerekte krisis” noem.

Die vyf banke – Rossiya, IS Bank, General Bank, Promsvyazbank en die Swartsee Bank – asook die drie ryk sakemanne se bates in die VK sal nou bevries word.

Die drie miljardêrs, Gennady Timchenko, Boris Rotenberg en Igor Rotenberg, sal verbied word om na die VK te reis en alle Britse individue en entiteite word verbied om sake met hulle óf die banke te doen.

Britse betrekkinge met Rusland is reeds uiters kil ná die vergiftiging van ʼn voormalige Russiese spioen in Londen in 2006, asook die poging tot moord op nog ʼn dubbele agent in die stad Salisbury in 2018.

Hoewel Rusland volhou dat hy voorlopig nie troepe na die ooste van Oekraïne sal stuur nie, sal hy wel tot dié stap oorgaan in geval van ʼn “bedreiging”, het ʼn amptenaar van die land se departement van buitelandse sake gesê nadat Moskou se parlement samewerkingsooreenkomste met Oekraïne se separatiste-republieke bekragtig het.

Die Russiese adjunkminister van buitelandse sake, Andrey Rudenko, het gesê die verdrae sluit in die verskaffing van “militêre hulp”, maar hy maan ook dat “bespiegeling” oor die ontplooiing van magte vermy moet word.

“Vir nou is niemand van plan om enigiets na enige plek te stuur nie. As daar ʼn bedreiging is, sal ons hulp verskaf in ooreenstemming met die bekragtigde verdrae.”

Die Withuis sal na verwagting later vandag (SA tyd) ook sanksies teen Rusland bekend maak.

SA regering moet stilte verbreek

Die DA het Rusland se “inval van Oekraïne onder die dekmantel van die handhawing van vrede, veiligheid en stabiliteit” verwerp en sê Russiese militêre aggressie kan ʼn reuse- gewapende konflik ontlok.

Darren Bergman, die DA se woordvoerder vir internasionale betrekkinge en samewerking, het ook gekap na die regering en gesê die ANC-geleide Suid-Afrikaanse regering se voortgesette stilte oor die spanning tussen Rusland en Oekraïne is uiters ontstellend.

Die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Naledi Pandor, het in antwoord op ʼn parlementêre vraag van die DA gekies om “poëties te raak oor Suid-Afrika se ‘diplomasie van ubuntu’, pleks daarvan om Russiese aggressie teenoor Oekraïne te veroordeel”, sê Bergman.

“Die voortgesette stilte hieroor deur die Suid-Afrikaanse regering kan net gesien word as dat die ANC dit goedkeur en Russiese aggressie in die ooste van Oekraïne moontlik maak.

“Die prys van ʼn volskaalse oorlog in Oekraïne gaan veels te hoog wees, nie net vir Europa nie, maar ook vir die res van die wêreld.”

Bergman sê die ANC-regering kan nie aanhou wegkruip agter historiese lojaliteite nie en moet nou deurslaggewend optree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Autobahn ·

Die DA wys hulle werklike kleur. Die DA is globalists en sal nooit intree vir die belange van Afrikaners en Boere nie.
Ook nie vir ander groepe nie. Die DA is internasionaliste.

Mandie ·

Stem 100% met jou saam, behalwe die DA het lankal hulle werklike kleur gewys,

Autobahn ·

Het nou lekker gelag. Jy’s natuurlik heeltemal reg. Dis lanklal bekend.

Burt ·

DA se kef kef kef gaan geen verskil Internasionaal maak nie.

Pieter9 ·

Iemand al gehoor van Bitcoin? Rusland koop al goud op vir baaaie jare – enigste sanksies wat werklike impak kan he is om alle gas /brandstof aankope/verkope te blok, toerisme visums te verbied. Die manier van sanksies wat nou taangekondig is sal Rusland vir die volgende 10jr baie gemaklik mee kan saam leef… En dan sal alternatiewe ‘kanale’ gevestig en funksioneel wees.

Dirk Mostert ·

Dis nie of Europa sonder Rusland se gas kan klaarkom nie. Putin moet maar die gaskrane toedraai terwyl dit nog winter is.

Anel ·

Natuurlik sal die ANC die Russe ondersteun! Hoe dan anders? Hulle kry mediese behandeling daar! En die een kommunis ondersteun mos die ander kimmunis.

Autobahn ·

Het nooit gedink die ANC is instaande om diplomaties so goed te reageer en eenvoudig stil te bly nie.

Marthinus W ·

Wat is sanksies? Ekonomiese terrorisme.

Waarom mag Rusland nie haar demokratiese reg uitoefen, en die Dontsk- en Loeganskgebiede erken nie? Indien Amerika hulle sou erken, sou daar sanksies gewees het? Dis tyd dat hierdie hipokrisie beeindig word.

In 2014 het Amerika 300 soldate, die CIA, `n biologiese oorlogslaboratorium en meer in Oekraine ingestuur; sedert 1995 meer as $5 biljoen, volgens Victoria Nuland. Die afgelope paar weke het Europese lande en Amerika miljoene dollar se wapens in Oekraine ingeneem. Maak dit Rusland nie senuagtig nie? Mag Rusland nie ongemaklik daaroor voel nie?

Burt ·

nee, dit maak hulle nie senuagtig nie, hulle pas bloot hulle strategie aan.

Dirk Mostert ·

Wat van die VSA se militere optredes in Irak en Sirie?

Christine ·

Dalk is dit tyd dat die VSA ook aangespreek word deur die wêreld. Hulle wil altyd oral ‘n eier te lê hê, sonder dat hulle worry oor enige ander land.

Ettienne ·

Enige groep mense wat hulself as ‘n nasie sien het die reg om hulleself te groepeer as ‘n onafhanklike nasionale entiteit en om hulself te regeer. Soos ‘n sekere groep Afrikaners dit ook wil doen. Noudat die behoefte by twee groepe in die Oekraine bestaan en hulle dit uitvoer, het sekere Westerse lande ‘n probleem daarmee. Dubbele standaarde sou ek sê. As ek die Skotte is, sal ek deeglik kennis neem van Engeland se standpoint teenoor hierdie twee groepe wat van die Oekraïne wil onafhanklik raak. Ek ondersteun nie die ANC nie maar wel hulle stilte. Die DA volg populistiese politiek en blaf nog steeds after hulle koloniale meesters , Engeland aan….

A ·

Julle het vir my gesê dit “westerse histerie”, dat Rusland sal nooit die Oekraïne inval nie.

annie ·

Die Weste glo hulle het niks om te verloor nie. ‘n Mens moet partykeer goed dink… Soms ook die haarkapper besoek, Oom Johnson; wat sy eie wetteloosheid wil verberg onder Putin se glo onverantwoordelikheid. Biden is bang hy kry weer ‘n toeval voor die Kremlin val… Die vraag is: Wat het die gebeure ver weg met hul uit te waai? Biden en Nuland was al ses jaar gelede aan’t konkel op Maidan-plein. Hoe so?

Dirk Mostert ·

Ons behoort simpatiek te wees teenoor die Russies-sprekende Donbas-republieke. Ek wens ons kan ons losmaak van ANC-verdrukking.

Di ·

Kyk maar na wat met SA gebeur het toe al die lande ingemeng het en druk toegepas het dat die ANC die land oorneem! Dink hulle almal sien nou wat hulle inmenging EINTLIK veroorsaak het, ‘n land verval in totale chaos

Christine ·

En dit was almal westerse lande wat SA gedruk het – die Skandanawiese lande aan die voortou, nou is hulle doodstil ten aanskoue van ‘n eens vooruitstrewende land en ekonomie wat ten gronde gaan. Die westerse lande is ‘n klomp huigelaars wat net na hul eie belange omsien, maar nie ander lande toelaat om presies dieselfde te doen nie.

Marthinus W ·

Amerika se optrede in Europa is baie roekeloos, omdat hulle eintlik niks voel vir Europa nie; hulle word net misbruik. Nie een enkele bom het tydens twee wereldoorloe op Amerikaanse grond geval nie (Hawaii se mense baklei sedert 1898 teen Amerika se afvat van hulle land.) Hulle dink dit gaan weer so wees in n volgende oorlog. Poetin se mense het 27 miljoen lewens opgeoffer in die laaste oorlog; Amerika nie eens een miljoen nie. Daarom wil die Russe nie oorlog maak nie, maar, hulle sal tot die bittereinde veg indien dit gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.