Seldsame luiperd in Irak gevang

Veearts Soleiman Tamr (links) behartig die amputasie van ʼn luiperd by die Duhok-dieretuin (31 Desember 2021) (Foto: Ismael Adnan/AFP)

ʼn Bedreigde luiperd is in die bergagtige noorde van Irak gevind. Sy agterpoot moes Vrydag geamputeer word ná hy ʼn wond weens ʼn strik opgedoen het, het ʼn AFP-fotograaf gesê.

Die Persiese luiperd, wat ʼn dag tevore in die Koerdistan-streek naby die grens met Turkye gevind is, het twee mense beseer, het kol. Jamal Saado, hoof van die omgewingsbewaringspolisie in Dohuk, gesê.

Inwoners van ʼn dorpie naby Zakho het ongeveer 20 skape afgestaan voor hulle besef het ʼn luiperd val hul vee aan. Die groot kat het ʼn wond aan sy agterpoot opgedoen toe hy in een van die skaapwagters se strikke getrap is. Hy het gevlug voor inwoners die polisie gehelp het om hom op te spoor.

Saado sê die luiperd is verdoof voor hy gevang is.

“Ons het ʼn paar jaar gelede twee of drie soortgelyke gevalle in Arbil-provinsie gehad,” het hy bygevoeg en gesê ʼn dier van dieselfde subspesie is vroeër dood aangetref naby ʼn dorpie in Dohuk.

Persiese luiperd (Foto: Tamar Assaf, eie werk via Wikimedia Commons)

Persiese luiperds is ʼn subspesie eie aan Turkye, Iran, Afghanistan en Kaukasus. Hulle is uiters seldsaam en is op die lys van bedreigde spesies. Daar is na raming minder as 1 000 wilde Persiese luiperds en 200 in aanhouding.

Veearts Soleiman Tamr, wat die amputasie Vrydag by die Dohuk-dieretuin behartig het, sê die dier weeg tussen 90 kg en 100 kg. “Ons sal hom vir ʼn ruk lank monitor,” het die veearts, wat ook ʼn dierebeskermingsvereniging in Koerdistan bestuur, bygevoeg. “As hy nie in die natuur vrygelaat kan word nie, sal hy by ʼn dieretuin gehuisves word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.