Seun (17) sterf tydens skooluitstappie

Adriaan Roodt. Foto: GoFundMe

ʼn Suid-Afrikaanse tienerseun wie se gesin in Australië woon, is Donderdag tydens ʼn skooluitstappie in die noordoostelike deel van dié land se hoofstad, Canberra, dood.

Die ongeluk het by Mount Ainslie gebeur wat gedeeltelik in die Canberra-natuurpark geleë is.

Adriaan Roodt (17) was saam met sy klasmaats van Campbell High School op die uitstappie as deel van ʼn liggaamlike oefening-klas toe hy dood is. Baie min inligting oor die omstandighede rakende sy dood is bekendgemaak, maar The Age berig ʼn swaar boomstomp was ter sprake in die ongeluk.

Roodt is ná die ongeluk na die Canberra-hospitaal gehaas waar hy later dood is.

Roodt se ouers, Chris en Sandra, het versoek dat meer besonderhede oor hul seun se dood nie bekendgemaak word nie en dat die familie se privaatheid respekteer word. Hulle het wel toegelaat dat Roodt se boksafrigter, net bekend as Spider, met die media praat.

“Adriaan was ʼn lieflike jong man. Baie kalm en rustig,” het Spider aan The Age gesê. “Ek is soos ʼn Hitler [in die gimnasium], so hy was baie gehoorsaam. Hy was nie ʼn bokser nie en het nooit in die kryt meegeding nie, maar hy het na my toe gekom omdat hy wou fiks word.”

Spider het gesê Roodt se pa is ʼn elektrisiën en ʼn voormalige bokser van Suid-Afrika.

The Age berig Yvette Berry, minister van onderwys, was vanoggend in trane tydens ʼn radio-onderhoud oor die voorval. Sy het later aan verslaggewers gesê die polisie, die onderwysdepartement en omgewingsowerhede is almal betrokke by die ondersoek na die voorval.

Berry wou nie bekendmaak of ʼn onderwyser teenwoordig was toe Roodt beseer is nie of sê of daar noodhulp op hom toegepas is nie. Sy het gesê die skool neem gereeld aan aktiwiteite by Mount Ainslie deel. “Die inligting wat ek het, is dat hierdie net ʼn verskriklike ongeluk was,” het Berry gesê.

Intussen het Lezanne Smith, ʼn vriendin van die familie, ʼn skarebefondsingsinisiatief op die been gebring om die Roodt se ouers en sy suster, Christelle, finansieel by te staan in die moeilike tyd. “Nodeloos om te sê [Adriaan se ouers en suster] is absoluut platgeslaan deur die verlies van hul kosbare seun en broer, en die lewe wat hulle geken het sal nooit weer dieselfde wees nie,” het Smith op die webblad geskryf.

ʼn Dans wat Donderdagaand by Campbell High School gehou sou word, is gekanselleer nadat die nuus oor Roodt se dood bekend geword het. Bedrywighede by die skool is wel vandag voortgesit en berading is aan leerders en personeel beskikbaar gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Al ·

My innige simpatie aan die gesin. Sterkte met jul verlies.
Maak nie saak waar en hoe jy jou bevind nie, tyd is kosbaar.

Waarheid ·

Ondersoek die saak.Iets is nie pluis nie.
Sterkte aan die gesin.Dink aan julle met hierdie geweldige onverklaarbare verlies.

Pierre Wolmarans ·

Enige dood van n persoon of ongeluk word deeglik in Australis ondersoek. Maak nie saak wat die omstandighede of getuies nie. My hart gaan uit na die fam.

Abe ·

MM laat weet asb. vir ons enige opvolginligting. Mens wil darem weet. Mens wil simpatiseer sonder om privaatheid van geliefdes te skend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.