Shakira ʼn tweede keer van belastingbedrog beskuldig

Shakira op vanjaar se Video Music-toekennings. (Foto: Facebook/Shakira)

Die Spaanse belastingkantoor beweer nou die Colombiaanse popster Shakira skuld hom altesaam €6,6 miljoen (sowat R135 miljoen).

Shakira moet reeds in November vanjaar in die hof verskyn in Barcelona, Spanje, oor vorige klagte van belastingontduiking wat dateer van 2018. Dit is egter nie bekend hoeveel geld in dié saak ter sprake is nie.

Besonderhede van die jongste aanklagte is Dinsdag bekend gemaak nadat die 46-jarige “Waka Waka”-sangeres amptelik by haar huis in Miami daarvan in kennis gestel is.

Die sangeres, wat ook bekend is vir snitte soos “Whenever, wherever” en “Underneath your clothes”, ontken egter alle aanklagte teen haar en sê sy skuld die Spaanse belastingkantoor niks nie.

Aanklaers wys op twee beweerde oortredings vir die indiening van “verkeerde belastingopgawes” waarin haar persoonlike inkomste- en welvaartbelasting in 2018, toe sy in Barcelona gewoon het, uiteengesit word.

Volgens die hofdokumente wat in Mei opgestel is, het Shakira glo ʼn “korporatiewe raamwerk” wat maatskappye betrek, gebruik in ʼn poging om belasting te ontduik.

Die sangeres se span ontken ook dat sy vandeesweek ʼn amptelike kennisgewing ontvang het oor die jongste bewerings teen haar.

“Shakira se regspan is gefokus daarop om voor te berei vir die verhoor wat verband hou met die tydperk van 2012 tot 2014, wat op 20 November begin,” het Shakira se verteenwoordigers in ʼn kort verklaring gesê.

Aanklaers het ʼn vonnis van agt jaar agter tralies en ʼn boete van €24 miljoen (sowat R485 miljoen) voorgestel nadat Shakira ʼn pleitooreenkoms van die hand gewys het.

Volgens aanklaers het Shakira meer as die helfte van die tydperk tussen 2012 en 2014 in Spanje gewoon en moes gevolglik belasting in dié land betaal het.

Die aanklaers sê Shakira het Spanje toe verhuis nadat haar verhouding met die FC Barcelona-sokkerspeler, Gerard Pique, openbaar gemaak is. Sy het egter tot 2015 amptelike belastingverblyf in die Bahama-eilandgroep gehad.

Shakira en Pique het tot einde verlede jaar in Barcelona gewoon totdat hul verhouding van 11 jaar beëindig is. Hulle het twee kinders.

Die sangeres het in April vanjaar aangekondig dat sy Barcelona gaan verlaat en woon nou in Miami.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gaitsigubib ·

Wel, ek gaan aanhou glo sy is onskuldig…….. finish en klaar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.