Soektog na seuntjie wat in put val eindig tragies

Rayan se ouers staan by die ambulans naby die toneel waar sy liggaam gevind is
(Foto: FADEL SENNA/AFP)

Marokkaanse reddingspanne se soektog na ʼn vyfjarige seuntjie wat ondergronds in ʼn put vasgekeer was, het tragies geëindig met sy liggaam wat gevind is.

Die moeisame vyf dae lange reddingsoperasie het die Noord-Afrika-koninkryk en die wêreld aangegryp.

Rayan Oram het Dinsdag sowat 32 m ver in die nou, leë skag naby sy ouerhuis in die afgeleë Chefchaouen-provinsie geval.

Marokko se koninklike kabinet het aangekondig dat hy dood gevind is en het gesê koning Mohammed VI was met die seun se ouers in verbinding.

Teen Saterdagmiddag het reddingspanne, met behulp van stootskrapers en voorlaaiers, die omliggende grond tot op die vlak waar die seun vasgekeer was, uitgegrawe, en boorspanne het begin om ’n horisontale tonnel te skep om hom van die kant af te bereik. Dit het egter teen ’n slakkepas plaasgevind aangesien die boorspanne met die hand gewerk het ten einde enige vibrasies te vermy sodat daar nie ’n grondstorting plaasvind nie.

Medelye stroom intussen in. “Ek wil vir die familie van klein Rayan en aan die Marokkaanse mense sê ons deel julle pyn,” het die Franse president Emmanuel Macron op Facebook gesê.

Duisende mense het die afgelope paar dae saamgedrom en selfs naby die terrein gekampeer terwyl die soektog na die seuntjie voortgeduur het (Foto: Fadel SENNA/AFP)

Duisende mense het die afgelope paar dae saamgedrom en selfs naby die terrein gekampeer terwyl die soektog na die seuntjie voortgeduur het. Reddingswerkers het probeer om suurstof en water by die kind te kry.

“Ek is vol hoop dat my kind lewendig uit die put sal kom,” het Rayan se pa Vrydagaand aan die openbare televisie-uitsaaier 2M gesê.

Hy het vroeër die week gesê hy was besig om die put te herstel toe sy seun ingeval het.

Die skag, net 45 sentimeter in deursnee, was te smal vir die seun om direk bereik te word, en om dit te verbreed was te riskant geag.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miskruier ·

Genoeg toeskouers, Geeneen wat n week gelede dié oop gat kon beveilig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.