Sokkersterre maak miljoene uit vals volgelinge

Cristiano Ronaldo vier ’n doel vir Manchester United in 2006. (Foto: Andrew YATES/AFP)

Befaamde sokkerspelers het miljoene aanhangers wat, ook aanlyn, hulle elke beweging volg en adverteerders betaal groot geld sodat dié sterre sekere produkte aan hul gehoor kan bemark.

Die probleem sluip egter in wanneer die sokkersterre geld van adverteerders verdien deur ʼn wanvoorstelling te gee van die aantal volgelinge wat hulle op sosiale media het. Dit word deur sogenaamde vals volgelinge, wat grotendeels uit kletsbotte bestaan, verrig.

ʼn Onlangse studie het bevind dat tot soveel as ʼn kwart van sterre soos Cristiano Ronaldo en Lionel Messi se volgelinge nie werklik bestaan nie en heeltemal onaktief is. Dié volgelinge bring hulle tot R7 miljoen per plasing in die sak.

Die kaartjieverkoopmaatskappy Live Football Tickets het die kort navorsingstudie onlangs van stapel gestuur in ʼn poging om vas te stel watter sokkersterre die meeste geld op Instagram verdien danksy die teenwoordigheid van vals volgelinge.

Vals volgelinge word dikwels teen ʼn prys aangekoop om ʼn persoon of maatskappy se getal volgelinge of “likes” op Instagram op te stoot. Dit skep dikwels die illusie dat meer mense die betrokke persoon of maatskappy se inhoud sien en verbruik as wat werklik doen.

Om presies vas te stel wie die meeste vals volgelinge het, het Live Football Tickets die geloofwaardigheidsinstrument Modash ingespan. Die sosialemediaverdiensteskatter Influencer Marketing Hub is toe gebruik om te skat hoeveel sokkerspelers per Instagram-plasing wat geborg word, verdien.

Die navorsing het gewys dat Ronaldo, oorspronklik van Portugal, een van die spelers met die meeste vals volgelinge is. Ronaldo speel tans vir die sokkerklub Al-Nassr en is die kaptein van Portugal se nasionale span.

Uit Ronaldo se 542 miljoen volgelinge op Instagram, is meer as 130 miljoen kletsbotte.

“Dit word geraam dat Ronaldo sowat £1,6 miljoen (meer as R30 miljoen) per Instagram-plasing verdien – ʼn bedrag wat met bykans £400 000 (R7,5 miljoen) sal verminder as dit nie vir sy onaktiewe volgelinge, oftewel kletsbotte, was nie,” lui die bevindinge.

“Hierdie bedrag is 35% meer as die geraamde onregmatige inkomste wat sy grootste internasionale mededinger, Lionel Messi, danksy kletsbotte verdien.”

Luidens die navorsing verdien Messi die tweede meeste (byna £200 000, oftewel R3,7 miljoen) van sy meer as 100 miljoen vals volgelinge. Dit is ook byna ʼn kwart van sy totale getal volgelinge (426 miljoen).

“As al sy 160 plasings van 2022 deur een of ander maatskappy geborg is, sou die Argentyn ʼn opspraakwekkende £31 231 168,32 (R590 miljoen) verdien het – enkel en alleen as gevolg van vals rekeninge, oftewel kletsbotte.”

Messi speel vir die sokkerklub Paris Saint-Germain asook vir Argentinië se nasionale span.

Brasilië se Neymar da Silva Santos Júnior is derde op die lys van sokkerspelers wat die meeste vals volgelinge het. Uit sy totale getal volgelinge, wat tans meer as 200 miljoen is, is net meer as 43 miljoen kletsbotte, wat hom ʼn geraamde £116 287 (R2,1 miljoen) per geborgde plasing laat verdien.

Neymar speel vir die sokkerklub Paris Saint-Germain asook vir Brasilië se nasionale span.

Kyk hier watter sokkersterre ook vals volgelinge op Instagram het en hoeveel geld hulle daaruit verdien:

RangSpeler% vals volgelingeGeskatte getal vals volgelingeGeskatte verdienste van vals volgelinge per geborgde plasing (£)
1Cristiano Ronaldo24,45130 807 500£398 041,11
2Lionel Messi23,98100 716 000£195 194,80
3Neymar da Silva Santos Júnior21,4043 014 000£116 287,12
4Kylian Mbappé20,6919 676 190£52 982,20
5Karim Benzema25,5716 441 510£44 318,46
6Sergio Ramos23,8813 205 640£35 278,45
7Zlatan Ibrahimovic22,2912 861 330£34 673,05
8Mohamed Salah21,7412 152 660£32 246,62
9Gareth Bale24,2912 047 840£32 068,10
10Luis Suárez22,6810 478 160£27 974,39

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.