Spele-baas wil glo bedank

Yoshiro Mori, die president van die Olimpiese organiseringskomitee. Foto: ANA.

Yoshiro Mori, president van Tokio se Olimpiese organiseringskomitee, gaan glo binnekort sy bedanking aankondig nadat hy beweer het dat vroue te veel in vergaderings praat. Dié stelling het hom die gramskap van talle Japannese op die hals gehaal.

Verskeie Japannese media berig Mori (83) het volgens anonieme bronne aan amptenare gesê hy wil uittree en sy bedanking Vrydag gedurende ’n vergadering met die organiseerders van die komende Tokio Olimpiese Spele aankondig.

Saburo Kawabuchi (84), ’n jarelange sportadministrateur, sal hom waarskynlik opvolg. Plaaslike media berig Mori het Kawabuchi Donderdag ontmoet om hom te vra om die rol van president by hom oor te neem.

Mori, ’n voormalige premier, verkeer onder al meer druk sedert oënskynlike seksistiese opmerkings wat hy verlede week aan lede van Tokio se Olimpiese organiseringskomitee gemaak het.

“Indien jy die aantal vroulike uitvoerende lede vermeerder en nie hul spreektyd tot ’n mate beperk nie, gaan hulle sukkel om klaar te kry, wat irriterend is,” het hy gesê.

’n Aanlyn veldtog waarin optrede teen Mori geëis word, het reeds meer as 146 000 handtekeninge ontvang, terwyl die Japannese tennisster Naomi Osaka sy opmerkings as “onkundig” bestempel het.

Ongeveer 400 Olimpiese en Paralimpiese vrywilligers het intussen bedank weens die opmerkings. Altesaam 80 000 vrywilligers uit Japan en die buiteland is gewerf vir die Spele wat na verwagting op 23 Julie sal afskop.

Mori het intussen om verskoning gevra vir die opmerkings, maar hou voet by stuk dat hy bloot ander se klagtes herhaal. Die Olimpiese baas het toe vir hom ’n selfs dieper gat gegrawe toe hy verduidelik dat hy “nie veel met vroue praat nie”.

Tokio 2020, wat nie onmiddellik gereageer het op ’n versoek om kommentaar op die bedankingsbewerings nie, hou môre ’n spesiale vergadering met sy raad en uitvoerende raad.

“Die vergadering is belê sodat amptenare hul mening oor Mori se opmerkings kan opper en toekomstige geslagsgelykheidsinisiatiewe in die organiseringskomitee te bespreek”, het organiseerders gesê.

Hoewel die Internasionale Olimpiese Komitee aanvanklik tevrede was met ʼn verskoning, het hulle nou Mori se opmerkings as onvanpas bestempel.

Japan verkeer in dié stadium nog in ’n ramptoestand en daar heers onsekerheid oor of die Spele wel vanjaar gaan voortgaan. Die land se eerste entstofgoedkeuring word boonop eers volgende week verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frieda ·

Ha ha ha dit is baie snaaks so ‘n ouman wat geirriteerd is deur vroue se baie praat!!

Andrew ·

Beter so. Die nonsens kom nog wanneer volgende jaar n Amerikaanse “identity woman” kwalifiseer vir die Amerikaanse olimpiese vroue span.

Blikkies ·

Ja, eerste handse ervaring, dit kan nogal ‘n probleem raak……. met respek gese..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.