Springkasteeltragedie: Nog ʼn kind sterf

springkasteel australië

‘n Sesde kind het sedertdien in ‘n hospitaal gesterf. Talle ruikers is reeds by die skool neergelê. (Foto: Twitter)

ʼn Sesde kind is dood in die Australiese springkasteeltragedie.

Volgens die polisie is ʼn 11-jarige seuntjie in die hospitaal dood. Die dodetal het kort ná die voorval op vier gestaan, maar is later na vyf aangepas.

Die kind se dood kom drie dae nadat die groot opblaaskasteel by ʼn skoolpartytjie in die Tasmaniese dorp Devonport deur ʼn rukwind geskep is.

“Dit is met ʼn swaar hart dat ek moet aankondig dat ʼn 11-jarige seuntjie vanmiddag in ʼn hospitaal dood is,” sê Darren Hine, polisiehoof van Tasmanië.

“Ons gedagtes is by sy familie asook die families en geliefdes van al die kinders betrokke in hierdie onbegryplik moeilike tyd.”

Drie 12-jarige seuns en twee meisies, onderskeidelik 11 en 12 jaar oud, is vroeër dood toe die springkasteel die lug ingeruk is en die kinders afgeslinger is. Twee ander kinders is steeds in ʼn bedenklike toestand in ʼn hospitaal in Hobart, terwyl nog ʼn kind tuis herstel.

Die tragedie het die Devonport-gemeenskap in rou gedompel.

Talle ruikers is buite die skool neergelê en meer as R13 miljoen is reeds in ʼn aanlyn geldinsameling vir die geraakte gesinne ingesamel.

Volgens die owerhede dui ooggetuieverslae daarop dat die kinders van ʼn hoogte van sowat tien meter gegooi is.

Die Tasmaniese owerhede het reeds ʼn ondersoek na die voorval van stapel gestuur, maar dit sal na verwagting “geruime tyd duur”.

Spesialispolisiebeamptes is na die eilandstaat gestuur om te help om onderhoude te doen met mense wat by die buitelugpartytjie was. Sowat 40 kinders het die geselligheid, wat gehou is om die laaste week voor die Kersvakansie te vier, bygewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Samuel ·

Dit baie tragies. Hoeveel springkastele word nie by ons opgerig nie, dog sonder nadelige gevolge. Hierdie was ‘n natuurramp wat nie voorsien kon word nie.

anniekiewiet ·

Mag God aan elkeen wat geraak is, troos skenk. Mag hulle almal net deur hul kinders se mooiste herinneringe ook getroos kan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.