‘Squid Game’-ster skuldig aan seksuele geweld

O-Yeong-su. (Foto: Image Press Agency/NurPhoto/AFP)

Suid-Korea se Squid Game-akteur O Yeong-su is skuldig bevind op aanklag van seksuele oortreding, het ʼn plaaslike hof Vrydag gesê. Hy is in 2017 aangekla dat hy ʼn vrou aangerand het.

Die 79-jarige het in 2022 die eerste Suid-Koreaan geword om ʼn Golden Globe-toekenning te ontvang vir beste akteur in ʼn ondersteunende rol vir sy vertolking van ʼn oënskynlik kwesbare ou man in die Netflix-treffer.

Die akteur is agt maande tronkstraf opgelê wat vir twee jaar opgeskort is, het die Seongnam-tak van die Suwon-distrikhof aan AFP gesê.

Hy moet ook 40 uur se klasse oor seksuele geweld bywoon, het die hof beveel.

Die slagoffer se getuienis en haar bewerings “was nie teenstrydig nie en dit wil voorkom of die uitlatings nie gemaak kan word tensy die persoon dit self beleef het nie,” het regter Jeong Yeon-ju gesê.

O is op twee geleenthede in 2022 aangekla van die seksuele aanranding op ʼn vrou, wie se naam nie bekend gemaak is nie. Hy is nie in aanhouding geneem nie.

Die voorvalle het in 2017 plaasgevind toe O in ʼn landelike gebied gebly het vir ʼn teateruitvoering. Dit het onderskeidelik op ʼn voetpad en voor die slagoffer se huis plaasgevind, aldus die Suwon-hof.

Squid Game is ʼn reeks wat ʼn distopiese wêreld uitbeeld waar uitgerangeerde individue gedwing word om deel te neem aan dodelike weergawes van tradisionele kinderspeletjies. Dit het gou enorme gewildheid behaal op Netflix. Binne vier weke van die vrystelling in 2021 het altesaam 111 miljoen mense dit reeds gekyk.

Die program se sukses het lig gewerp op Suid-Korea se toenemende invloed op internasionale popkultuur ná internasionale roem deur die K-pop-musiekgroep BTS en Oscar-bekroonde fliek Parasite.

Verskeie figure in Suid-Korea se filmbedryf, insluitend die oorlede filmmaker Kim Ki-duk en akteur Cho Jae-hyun is al aangekla van seksuele oortredings.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nommer 7 ·

‘n Man se drang is op sy hoogste, 100%, op 18 jarige ouderdom. Na gelang van tyd neem dit af, en op 85 is dit sowat 99.5%!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.