Steenkoolwerker se seun nou nuwe president vir Taiwan

Taiwan se volgende president, Lai Ching-te tydens ʼn perskonferensie (13 Januarie 2024) (Foto: Alastair Pike/AFP)

Die veteraan-politikus Lai Ching-te, ʼn “pragmatiese werker vir Taiwan se onafhanklikheid”, sal nou in die kollig tree as die demokratiese eiland se volgende president om ʼn toenemend onstuimige verhouding met China te navigeer.

Die 64-jarige Harvard-gegradueerde het Saterdag by die stembus geseëvier met ʼn belofte dat hy Taiwan se demokrasie sal verdedig en China se eise op die eiland sal teenstaan.

Sy oorwinning is ʼn ongekende derde agtereenvolgende termyn vir die Demokratiese Progressiewe Party (DPP) en in sy oorwinningstoespraak het Lai dit as “ʼn oorwinning vir die gemeenskap van demokrasieë” beskryf.

“Ons sê aan die internasionale gemeenskap dat ons, tussen demokrasie en outoritarisme, aan die kant van demokrasie sal staan,” het hy gesê.

Hy het onderneem om pres. Tsai Ing-wen se beleide, om Taiwan se weermagvermoëns op te skerp, voort te sit as ʼn verdedigingsafskrikmiddel teen ʼn moontlike inval van China.

China beskou Lai as ʼn “hardkoppige werker” vir Taiwan se onafhanklikheid en ʼn “saboteur van vrede” en gewaarsku dat die politikus met die sagte stem “die oorsaak van oorlog en agteruitgang” vir die eiland sal wees.

Lai kom uit ʼn nederige huis, in teenstelling met die meeste van Taiwan se politieke elite. Hy is gebore in 1959 en is saam met vyf ander boeties en sussies deur hul ma grootgemaak in ʼn landelike deel van Nieu-Taipei ná sy pa, ʼn steenkoolwerker, dood is toe Lai ʼn kleuter was.

Hy het geneeskunde aan die nasionale universiteit van Taiwan studeer en daarna ʼn meestersgraad in openbare gesondheid by Harvard-universiteit behaal. Hy was ʼn senior dokter by ʼn hospitaal in suidelike Taiwan voor hy in 1996 hom na die politiek gewend het.

Hy was ʼn wetmaker, ʼn burgemeester van Tainan en ʼn premier voor hy gekies is om adjunkpresident te word in president Tsai se kabinet. Hy is nou Tsai se opvolger.

Tydens sy verkiesingsveldtog het Lai by die standpunt gehou dat Taiwan “reeds onafhanklik is” en “nie formeel homself afsonderlike van China hoef te verklaar nie”.

Hy is bereid om gesprekke met China te voer “op voorwaarde van gelykheid en waardigheid”. Volgens hom kan nouer bande vir ekonomiese vooruitgang nie verruil word vir Taiwan se soewereiniteit nie. “Om China se ‘een-China-beginsel te aanvaar, is nie werklike vrede nie,” het hy gesê, met verwysing na ʼn Beijing-doktrine dat Taiwan deel is van China. “Vrede sonder soewereiniteit is net soos Hongkong. Dit is ʼn valse vrede.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.