Stemopnemer van Indonesiese rampvlug herwin

Indonesiese amptenare dra Woensdag ‘n boks met die herwinde stemopnemer in die hawe in Tanjung Priok in Jakarta. (Foto: BAY ISMOYO / AFP)

Die stemopnemer van die kajuit van die Indonesiese vliegtuig wat in Januarie vanjaar met 62 passasiers en bemanning aan boord neergestort het, is in ’n goeie toestand uit die see herwin.

Dít meer as twee maande nadat die Sriwijaya Air Boeing 737-500 kort nadat dit opgestyg het, in die Javasee neergestort het.

Die bandopnemer neem gesprekke tussen vlugpersoneel op en kan moontlik deurslaggewende leidrade bied oor waarom die vliegtuig daardie dag ongeveer 3 000 meter uit die lug in die water naby die Indonesiese hoofstad geduik het – enkele minute nadat dit by die Soekarno-Hatta-lughawe in Jakarta opgestyg het.

Maroela Media het vroeër berig die vliegtuig se data-opnemer wat inligting bevat oor die spoed, hoogte en rigting van die vliegtuig, is reeds vroeër uit die Javasee gehaal.

Die owerhede het Woensdag gesê die bandopnemer is in ’n goeie toestand ondanks die feit dat dit maande lank in die water was.

“Ons is dus vol vertroue dat ons die data daarvan sal kan aflaai,” het Soerjanto Tjahjono, hoof van die nasionale vervoerveiligheidskomitee in Indonesië, gesê.

Polisielede ondersoek in Januarie die oorskot van een van die slagoffers van die noodlottige vlug. (Foto: Adek Berry/AFP)

Die stemapparaat is Dinsdagaand gevind nadat die modderige seebodem met spesiale gereedskap geskraap is, nadat die duiksoektog dit nie kon opspoor nie.

“Dit was soos om ’n naald in ’n hooimied te probeer vind,” het Tjahjono vroeër vandag aan verslaggewers gesê.

Ondersoekers hoop nou om daarop te hoor wat die bemanning gesê het toe die vliegtuig neergestort het. Volgens Tjahjono sal dit sonder die bandopnemer uiters moeilik wees om die oorsaak van die vliegramp te bepaal.

Stem- en vlugdata-opnemers van die kajuit staan ​​bekend as swart bokse en help volgens lugvaartkenners in die ondersoeke van byna 90% van vliegongelukke.

’n Voorlopige verslag van die ongeluk is verlede maand bekend gemaak waarin gesê word dat bemanning op vorige vlugte die vliegtuig se spoedbeheerstelsel as “ondiensbaar” beskryf het en dat dit al ’n paar keer herstel is voor die noodlottige finale vlug.

Die verslag lui dat ’n katastrofiese wanfunksie van die spoedbeheerstelsel en moontlike menslike foute onder die faktore is wat die ongeluk kon veroorsaak het.

Ondersoekers het egter gesê dit is nog te vroeg om die oorsaak van die vliegramp finaal te bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.