Suez-kanaal hopelik binnekort weer oop

Die eienaar van die skip sê hoewel dit “gedraai” het, is dit steeds nie heeltemal los nie. (Foto: Suez-kanaalowerheid/AFP)

Die enorme vragskip wat die Suez-kanaal nou al bykans ʼn week lank blokkeer, wys nou reeds 80% in die regte rigting, het amptenare Maandag gesê. Dit het hoop laat opvlam dat dié belangrike handelsroete binnekort weer oopgestel kan word.

Die eienaar van die skip sê hoewel dit “gedraai” het, is dit steeds nie heeltemal los nie.

Die MV Ever Given met ʼn totale lengte van meer as vier rugbyvelde, het Dinsdag tydens ʼn sandstorm dwarsoor die kanaal vasgesteek. Dit het groot dele van die wêreld se verkrygingsketting tot stilstand gedwing en die internasionale ekonomie reeds miljarde rande gekos.

Die skeepsdatamaatskappy Lloyds’ List sê die opeenhoping van skepe aan albei kante van die kanaal – in die Rooi See en die Middellandse See – staan tans op 425.

Sodra die skip ten volle vlotgemaak is, sal dit tussen drie en vier dae duur om die verkeersopeenhoping op te klaar, het die hoof van die Suez-kanaalowerheid, Osama Rabie, aan ʼn Egiptiese televisienuusdiens gesê.

Rabie het vroeër vandag gesê die reddingspogings met sleepbote het minstens daarin geslaag om die agterstewe van die skip te skuif.

“Die posisie van die skip is nou sowat 80% in die regte rigting,” het Rabie in ʼn verklaring gesê.

“Die agterstewe is 102 meter van die oewer geskuif”, waar dit voorheen vier meter van die oewer was.

Pogings om die vaartuig volledig te laat dryf sal met die volgende hooggety hervat word.

Die owerheid sê die proses sal hervat word wanneer water weer begin invloei om dit ten volle in die middel van die kanaal vlot te maak.

Sleepboot-flottielje

Honderde skepe wag om deur die kanaal te vaar. (Foto: Suez-kanaalowerheid)

Shoei Kisen, ʼn amptenaar van die maatskappy aan wie die skip van 200 000 ton behoort, sê hoewel die Ever Given “gedraai is”, dit in hierdie stadium “nie dryf nie”.

Die skip het aanvanklik teen ʼn hoek van sowat 30 ° in die rigting van die kanaal vasgesteek, maar dié situasie is nou verbeter danksy die hulp van ʼn flottielje sleepbote.

“Altesame 11 sleepbote probeer sedert vanoggend die Ever Given sleep,” het die amptenaar gesê. Skade is aan die boeg van die skip aangerig toe dit vasgesteek het, maar “geen nuwe skade is aangemeld nie”.

ʼn Kanaalamptenaar wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, het gesê die span op die grond is besig met tegniese inspeksies en is die versekering gegee dat die skip se enjin werk.

Herwinningspanne werk sonder ophou om die skip weer op koers te kry.

Hulle het werk gefokus op pogings om sand rondom die skip te verskuif, met 27 000 m² wat reeds op ʼn diepte van 18 m verskuif is, het George Safwat, ʼn woordvoerder vir die Suez-kanaalowerheid, Sondagaand gesê.

Sondagaand het die skeepsmaatskappy Leth gesê Egiptiese owerhede het besluit dat meer sleepbote benodig word om die skip te skuif en die vlotmaak-poging is tot Sondag se hooggety uitgestel.

Die Alp Guard, ʼn Nederlandse skip, het Sondag by die reddingspoging aangesluit en Italië se Carlo Magno vanoggend.

Rusland het ook Sondag hulp aangebied. Verskeie ander lande, waaronder die VSA, het dit reeds gedoen.

Rimpeleffek

Die krisis het skeepsmaatskappye gedwing om te besluit of hulle gaan wag om die kanaal te gebruik, of skepe rondom die kus van Afrika te herlei. Die bykomende 9 000 km maak ʼn groot verskil in die brandstofrekening en voeg sowat ʼn week by die reis tussen Asië en Europa.

Elke dag van die oponthoud kos wêreldwye handel minstens R90 miljard, het navorsing van die Duitse versekeraar Allianz bevind.

Dit is tussen 0,2% en 0,4% van jaarlikse handel elke week.

Een van die voorbeelde van die enorme uitwerking van die opeenhoping is ʼn besluit van owerhede in die oorloggeteisterde Sirië om reeds skaars voorrade weens ʼn gebrek aan brandstofinvoere uit Iran te rantsoeneer.

Roemenië se dieregesondheidsagentskap het ook sy kommer uitgespreek oor die 11 skepe wat lewende hawe uit dié land vervoer, terwyl die welsynsorganisasie Animals International gewaarsku het dat ʼn moontlike “tragedie” wag op die sowat 130 000 diere aan boord van die skepe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lourens CFG ·

“en is die versekering gegee dat die skip se enjin werk.”, gebruik hulle dan nie sy enjins saám met die sleepbote nie?
Ek verstaan dat hy moet draai, maar toe sy agterstewe gedraai het, kon hulle mos almal saam na agtertoe trek. Hy sal makliker so beweeg as om die dooie gewig net sywaarts te wil trek. Die oppervlakte sywaarts is groter as in die lengte.

Miskruier ·

As boer is ek hewig gekant teen die uitvoer van lewendige diere, as die ooste wil vleis eet, voer die karkasse uit. Ek hoop die DBV staan reg om die lot van 130 000 diere te monitor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.