Suid-Korea wil self-isolasie met armbandjies monitor

Mediese personeel in Goyang, Suid-Korea (1 Maart 2020) (Foto: AP Photo/Ahn Young-joon, File)

Suid-Korea beplan om van elektroniese armbandjies gebruik te maak teen diegene wat self-isolasiereëls oortree te midde van pogings om die verspreiding van die nuwe koronavirus te bekamp.

Chung Sye-kyun, eerste minister, het gesê die maatreëls is in reaksie oor die kommerwekkende hoeveelheid mense wat die reëls verbreek, het die Yonhap-nuusagentskap berig.

Die armbandjies sal die persone se beweging monitor deur hul slimfone. Suid-Korea se regering het reeds ʼn app om mense in self-kwarantyn te monitor.

Altesaam 10 480 persone het reeds positief getoets vir Covid-19 in die land en die sterftesyfer staan op 211.

Gesondheidsowerhede in Seoel is steeds besorg oor gekonsentreerde groepe besmettings en sogenaamde ingevoerde gevalle van diegene wat oorsee gereis het. Die sentrum vir siektebeheer en voorkoming in Korea (KCDC) het Vrydag ook 91 gevalle aangemeld van persone wat positief getoets het vir die virus ná hulle vroeër glo herstel het.

Toetse word ook beplan om te bepaal of diegene, wat van die virus herstel het, teenliggaampies dra en steeds aansteeklik is of nie.

Volgens die Johns Hopkins-universiteit het meer as 1,7 miljoen mense wêreldwyd reeds positief getoets vir Covid-19. Meer as 108 000 persone het gesterf en ongeveer 366 000 het herstel.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.