‘Taliban’ teiken troue oor musiek

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Drie mense is Saterdag by ʼn troue in die oostelike deel van Afghanistan doodgeskiet toe drie vermeende Taliban-lede op dié bruilof toegesak het – glo oor musiek by die geleentheid gespeel is.

Verskeie ander mense is in die voorval beseer.

Hoewel die mans hulself as Taliban geïdentifiseer het, het dié Islamitiese beweging ontken dat hy enigiets met die voorval te doen gehad het.

Volgens Zabihullah Mujahid, woordvoerder van die Taliban, is twee van die drie aanvallers glo reeds in hegtenis geneem en word daar na die derde verdagte gesoek.

Die mans het glo by die troue in Nangarhar ingebars en op gaste losgebrand terwyl hulle geëis het dat die musiek afgesit word.

Musiek was voorheen in Afghanistan verbied toe die Taliban ook destyds aan bewind was.

Hoewel die nuwe Taliban-regering nog nie só ʼn bevel uitgereik het nie, veroordeel sy leierskap steeds die gebruik van vermaak aangesien dit as ʼn verbreking van Islamitiese wetgewing beskou word.

“In die geledere van die Islamitiese Emiraat het niemand die reg om enigiemand van musiek of enigiets te ontneem nie, net om hulle te probeer oorreed. Dit is die belangrikste manier,” het Mujahid vroeër op ’n nuuskonferensie gesê.

“As enigiemand iemand alleen doodmaak, al is dit ons personeel, is dit ’n misdaad en sal ons hulle aan die howe oorhandig sodat die reg sy gang kan gaan.”

Die voormalige Taliban-regering het in 1996 en 2001 ʼn “streng interpretasie” van die Islamitiese wette ingestel asook wrede openbare strawwe.

Sedert die Taliban weer in Augustus aan bewind gekom het, het hulle ʼn meer gematigde beeld probeer weergee.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Danie ·

“As enigiemand iemand alleen doodmaak, ………………., is dit ’n misdaad”
Nou ja dit sal hulle leer om nie alleen te opereer nie dan is alles ok.
Ek kan nogal met die taliban assosieer tov die gesuipte brigade se braaivleismusiek of die rapgemors van die nuwe geslag wanneer jy rustig probeer uitspan iewers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.