Talle beseer toe Boeing skielik skud, mense ‘rondslinger’

’n Boeing 787-9 Dreamliner van LATAM Airlines ter illustrasie. (Foto: The Guardian)

Minstens 13 mense is in die hospitaal opgeneem nadat ʼn Boeing 787-9 Dreamliner van LATAM Airlines tydens ʼn vlug ʼn tegniese probleem ondervind en skielik ʼn ent in die lug geval het. Die vliegtuig was van Sydney na Auckland onderweg toe die voorval plaasgevind het.

Dit vliegtuig het glo so woes geskud dat sommige passasiers rondgeslinger is, aldus die nuusblad The Guardian.

Ambulansdienste het altesaam 50 passasiers op die toneel behandel.

Die nooddiens Hato Hone St John Ambulance sê dié organisasie is 15:58 (internasionale tyd) na die Auckland Internasionale Lughawe ontbied. Vyf ambulanse, ondersteuningsvoertuie en verskeie senior personeel is ontplooi om beseerde passasiers by te staan.

Nooddienswerkers het ongeveer 50 pasiënte ondersoek en behandel. Een persoon is ernstig beseer terwyl die res matige tot geringe beserings opgedoen het. Dertien pasiënte is in ambulanse na die Middlemore-hospitaal vervoer.

“Almal op die vliegtuig het geskree. Die vliegtuig se neus het begin duik en ek gedink, ‘oukei, dis die einde’,” het passasier Brian Jokat aan die Nieu-Seelandse nuusblad Stuff gesê

Nog ʼn passasier het aan Radio New Zealand gesê die vliegtuig het skielik net in die lug begin val.

“Mense het nogal seergekry. Baie van die passasiers het nie in daardie stadium veiligheidsgordels aangehad nie,” het hy gesê.

“Mense was ook regtig bang.”

ʼn Woordvoerder van die Suid-Amerikaanse lugredery het aan die New Zealand Herald gesê dat die vlug van Sydney na Auckland ʼn “tegniese probleem” ondervind het wat “sterk beweging” veroorsaak het.

Die vlug het ’n geskeduleerde stop in Nieu-Seeland gemaak op pad na Santiago, Chili.

“Die vliegtuig het soos geskeduleer op die Auckland-lughawe geland. Die voorval het sommige passasiers en kajuitpersoneel geraak. Hulle het onmiddellike bystand ontvang en is deur mediese personeel by die lughawe ondersoek of behandel soos nodig,” het LATAM se woordvoerder gesê.

“LATAM betreur die ongerief en beserings wat hierdie situasie moontlik vir sy passasiers veroorsaak het, en herhaal sy verbintenis tot veiligheid as ’n prioriteit binne die raamwerk van sy bedryfstandaarde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dries ·

Ook maar goed ek was nie op daardie vlug nie, dit sou skoonmaakdienste ten minste n week gevat het om vliegtuig skoon te maak.

Aggie ·

Ek hou tydens ‘n vlug heeltyds my veiligheidsgordel aan. Dan kan jy nie rondval in ‘n skielike krissis nie. Enig-iemand wat dit nie doen nie is ‘n gevaar vir dié wat dit wel doen.

Dahlia ·

Ons het altyd vir passassiers gevra om hulle veiligheidsgordels liggies vasgemaak te hou gedurende die vlug maar dis verbasend hoe min van hulle na die aankondigings luister.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.