Talle sterf in aanval op Katolieke Kerk in Nigerië

Muhammadu Buhari, president van Nigerië (Foto: JOHANNA GERON/POOL/AFP)

Gewapende mans het Sondag ʼn Rooms-Katolieke Kerk in die suidweste van Nigerië bestorm en op aanbidders losgebrand.

Volgens die regering en polisie is talle aanbidders doodgeskiet en talle gewond tydens die aanval by die St. Francis Katolieke Kerk in Owo in die Ondo-staat.

Pous Franciskus het in ʼn verklaring gesê hy het verneem van die “dood van dosyne gelowiges” tydens die viering van Pinkster.

Nog geen groep het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie en die motief en die presiese dodetal was nie onmiddellik duidelik nie. Pres. Muhammadu Buhari het die “gruwelmoorde op aanbidders” veroordeel.

Ibukun Odunlami, woordvoerder van die polisie, het gesê die gewapende mans het ook die kerk met plofstof aangeval.

ʼn Ooggetuie het aan AFP gesê minstens 20 aanbidders is in die aanval dood. “Ek het deur die area beweeg toe ek ’n harde ontploffing en geweerskote in die kerk gehoor het.” Hy het gesê hy het minstens vyf gewapende mans op die kerkperseel gesien voordat hy na veiligheid gehardloop het.

Rotimi Akeredolu, Ondo-goewerneur, het gesê Sondag se voorval was ʼn “afskuwelike en sataniese aanval” en het ʼn beroep op die veiligheidsmagte gedoen om die aanvallers op te spoor.

Die aanval kom ʼn dag voordat die regerende APC-party met voorverkiesings begin vir sy kandidaat om Buhari in die 2023-verkiesing te vervang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andries ·

Die laaste paragraaf laat dit klink of die geweld as polities-gedrewe beskou word terwyl dit deel uitmaak van ‘n groter en wereldwye moslem-jihad teen ander gelowe.

Die berig laat ook na om te noem dat die afgelope Sondag die viering van SHAVUOT/PINKSTER was wat die aanval des te meer betekenisvol maak, want die viering van Pinkster gaan juis oor die uitstorting van die GEES van die WAARHEID en die groot opdrag om dissipels van die nasies te maak.

Marietjie ·

Daar word wel genoem dat dit tydens Pinkster tyd gebeur het. Gelowiges word uitgeroei. Ons moet bid die werêld is boos. Satan mag nie oorhand kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.