Tientalle help om man van 300 kg uit huis te red

ʼn Man word uit sy tweeverdieppinghuis gehys. (Foto: Raymond Roig, AFP)

Ongeveer 50 polisielede, reddingswerkers en dokters het Dinsdag tydens ʼn spesiale operasie ʼn man wat 300 kg weeg uit sy huis in die suide van Frankryk gered.

Die man kon homself nie van die vloer van sy slaapkamer af oplig nie en reddingswerkers kon hom nie by die trappe af dra of by die deur uit kry nie.

Alain Panabiere (53) was maande lank in sy huis in Perpignan vasgekeer nadat hy sy been gebreek het. Sy broer het hom versorg, maar sy gesondheid het vinnig agteruitgegaan.

Jean Codognes, Panabiere se prokureur, het einde Oktober ʼn versoek gerig aan Gerald Darmanin, Franse minister van binnelandse sake, om toestemming vir ʼn noodredding te gee.

Panabiere en Frankryk se Anti-Obesity League het ʼn klag ingedien waarin hulle beweer dat hulp nie  aan ʼn persoon in gevaar verleen is nie.

Die man is in ʼn metaalkas na ʼn ambulans afgehys. (Foto: Raymond Roig, AFP)

Die polisie het Dinsdag die smal straat waarin Panabiere se tweeverdiepinghuis is, afgesper. Hulle het ook bure versoek om hul huise te verlaat indien daar ʼn ongeluk is.

Reddingswerkers het die gebou se struktuur versterk en ʼn gang deur ʼn buitemuur op die boonste verdieping gesny. Nooddiensbeamptes het Panabiere op ʼn drup geplaas terwyl hy na ʼn metaalkas gedra is wat buite aan ʼn hyskraan gehang het. Hy is afgehys waarna ʼn ambulans hom na die Montpellier-hospitaal geneem het.

“Dit was ʼn hoërisiko-reddingspoging,” het Codognes gesê.

“As jy iemand weer aan die beweeg kry nadat hy vir twee tot vyf jaar geïmmobiliseer was, is daar ʼn risiko vir kardiale agteruitgang en aartrombose. Ons moet wesenlik ʼn kardiovaskulêre stelsel weer bybring wat vir ʼn lang tyd gerus het,” sê Antoine Avignon, hoof van endokrinologie, diabetes en voeding by die Montpellier-hospitaal.

Avignon sê dat Panabiere tans in die hospitaal behandel word totdat hy na ʼn rehabilitasiesentrum oorgeplaas kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Samuel ·

‘n Mens moet nie soiets aan die groot klok hang nie. Ek kry die arme man jammer. Goeie ding die reddingspoging was geslaagd. Sal die gebreekte been weer herstel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.