Tiers, leeus van ‘Tiger King’-park gered

Die Tiger King Joe Exotic, oftewel Joseph Maldonado-Passage (Foto: Netflix/TigerKingMMM/Facebook)

Die Amerikaanse departement van justisie het beslag gelê op 68 leeus, tiers en leeu-tier-kruisings asook ʼn jaguar van die voormalige dierepark van Joe Exotic, die ster van die Netflix-treffer Tiger King.

Beamptes van die departement het Maandag op die park in Thackerville, Oklahoma, toegeslaan vir die voortgesette oortreding van die Wet op Bedreigde Spesies.

Die departement het Donderdag gesê die huidige bestuurders van die park, Jeffrey en Lauren Lowe, het herhaaldelik wette oortree wat vereis dat die diere behoorlik versorg moet word. Hulle het ook versuim om te voldoen aan ʼn bevel om ʼn gekwalifiseerde veearts aan te stel.

“Dit moet ʼn duidelike boodskap stuur dat die departement van justisie beweerde leed aan diere wat in aanhouding geteel word en wat onder die Wet op Bedreigde Spesies beskerm word, in ʼn baie ernstige lig beskou,” het Jean Williams, waarnemende adjunk- prokureur-generaal, gesê.

In hofdokumente het ʼn spesiale agent van die Amerikaanse Vis- en Wildlewediens die park beskryf as ʼn plek waar daar aktief met groot katte geteel word, sonder behoorlike sorg en sonder dat nuwe geboortes aangemeld word – soos die wet vereis.

“Die diere staan ʼn groot risiko vir verdere leed en teistering as daar nie op hulle beslag gelê word nie,” lui die hofdokument.

Die Lowes, wat ook in Tiger King te sien was, het die park by Joe Exotic (Joseph Maldonado-Passage) in 2016 oorgeneem ná die flambojante sakeman finansiële en regsprobleme ondervind het.

Maldonado-Passage is in 2018 in hegtenis geneem en is ʼn jaar later skuldig bevind op aanklag dat hy ʼn mededinger, Carole Baskin, wou laat vermoor. Hy dien tans 22 jaar lange tronkstraf uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.