Toyota verkoop rekordgetal voertuie

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Marcin Kin/Red Bull/AFP)

Die voertuigvervaardiger Toyota het die rekords laat spat met 11,2 miljoen voertuie wat in die 2023-boekjaar verkoop is.

Dié prestasie het verseker dat die Japanse maatskappy vir die vierde agtereenvolgende jaar onwrikbaar in sy eerste plek as die wêreld se topvoertuigverkoper staan.

Toyota se syfers dui op jaarlikse groei van 7,2%.

Duitsland se Volkswagengroep het ook ʼn goeie jaar agter die blad, met 9,2 miljoen verkope in 2023. Dié maatskappy se verkope het met 12% toegeneem vergeleke met die vorige jaar.

Suid-Korea se Hyundai-Kia het sy derde plek op die podium behou met 7,3 miljoen voertuigverkope. Dit is 6,7% meer as die vorige jaar.

Wat markwaarde betref, is Elon Musk se elektriese voertuigvervaardiger, Tesla, steeds nommer een in die wêreld.

Toyota het Dinsdag gesê hy skryf sy jongste prestasie toe aan ʼn sterk aanvraag in elke streek waar sy voertuie verkoop word, asook ʼn verbetering in die tekorte wat vroeër aan halfgeleiers ervaar is.

“Ons sal voortgaan om die situasie rakende die verskaffing van onderdele te monitor en elke poging aanwend om soveel moontlik voertuie so vroeg moontlik aan ons klante te lewer.”

Dinsdag se syfers sluit die gesamentlike verkope vir die Toyota-, Lexus-, Daihatsu- en Hino-handelsname in – wat almal deur Toyota Motor Corporation besit word. Toyota het sy eie vorige rekord van 10,7 miljoen verkope geklop, wat in 2019 opgestel is toe Toyota vir Volkswagen verbygesteek het.

Toyota en Lexus het vir die meeste van die vervaardiger se 11,2 miljoen verkope wêreldwyd gesorg, met 10,3 miljoen voertuie wat gesamentlik verkoop is.

Daihatsu, wat kleiner voertuie vervaardig, se verkope het effens afgeneem, terwyl die vragmotor-en-busvervaardiger Hino se verkope met 10% geval het ná ʼn skandaal oor ongerymdhede met die toetsing van enjins in Japan.

Wat die elektriese motorverkope (EV’s) betref, is Toyota egter ver agter.

Toyota was stadiger as sommige ander mededingers om elektriese voertuigbeleggings te aanvaar, aangesien hulle lankal meer op hibriede voertuie fokus.

In 2023 het dit net 104 018 EV’s verkoop, ʼn fraksie van die 1,81 miljoen Tesla-verkope en 1,57 miljoen verkope vir China se BYD.

Toyota se hibriede eenheidverkope was wel verlede jaar 3,4 miljoen – ʼn groot opwaartse sprong van 31,4%.

Die maatskappy sê egter hy beplan om teen 2025 ʼn geëlektrifiseerde weergawe vir elke Toyota- en Lexus-model wêreldwyd te hê.

Toyota beoog ook om jaarliks ​​1,5 miljoen EV’s teen 2026 te verkoop, en 3,5 miljoen teen 2030.

Die maatskappy het vandeesmaand gesê hy sal sy elektriese batteryaanleg in Noord-Carolina aansienlik uitbrei.

Toyota het vanjaar te midde van sy uitnemende prestasie ʼn spoedhobbel getref wat tot die opskorting van die verskeping van 10 modelle gelei het. Dít volg ná ongerymdhede met die toets van bepaalde enjins by ʼn sustersmaatskappy.

Dié maatskappy, Toyota Industries, het volgens Toyota versuim om voldoende perdekrag-uitsettoetse vir die sertifisering van drie dieselenjinmodelle te doen.

Die Toyota Land Cruiser 300 en HiAce is van die modelle wat die geraakte enjins gebruik.

Volgens Toyota sal dié stap sowat 36 500 Toyota-voertuie raak wat maandeliks vervaardig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Perdeby ·

En hoeveel van daai Toyotas was in SA ” replacement” agv die hoe diefdtal syfer.

Windlawaai ·

‘n Groot gros is Suzuki’s wat as Toyotas verkoop word. Die Starlet, Vitz, Urban Cruiser onder andere is almal uitstaande goeie verkopers, en Suzuki produkte.
Die 86 was in samewerking met Subaru ontwikkel en gebou.
Interessant dan dat die “Toyotas” beter verkoop as die oorspronklike, ten spyte van hoë pryspremie. Dis presies dieselfde kar en die Suzuki ‘s het beter toerustingsvlakke, waarborg en diensplan.
Daar is oorgenoeg stupid mense.

Wielspore ·

Toyota doen goed en hulle verdien dit, die groep is kraetief en vervaardig betroubare voertuie. In SA is daar ‘n Toyota kultuur en so iets se bestaan kom uit ‘n lang verhouding van vertroue tussen klient en vervaardiger. Nee ek werk nie vir Toyota en besit ook nie tans een, ek ry VW wat huidiglik besig is om sy mark aandeel te verloor agv swak diens aan kliente.

hpven ·

Baie geluk Toyota julle maak uiters betroubare produkte en verdien wat julle toekom! Respek!
Persoonlik van ‘n lojale Ford man.

Surfer ·

As Toyota net hul naverkoop diens kan verbeter, hul dienste goedkoper maak en minder gesteld is op groot profyt.

andre ·

@George , my ondervinding met Suzuki ook,Suzuki kan nie die naverkoopdiens bied wat Toyota gee nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.