Tropiese storm op pad na Japan

Die tropiese storm Nepartak is op pad na Japan. (Foto: AFP / Nasa)

Die tropiese storm Nepartak wat Japan na verwagting Dinsdag sal tref, het reeds daartoe gelei dat organiseerders van die Olimpiese Spele in Tokio sekere items moes uitstel.

Dít ná die Spele reeds weens die Covid-19-pandemie met ’n jaar uitgestel moes word.

Dinsdag se roei- en boogskietprogramme is herskeduleer aangesien dié sportsoorte deur sterk winde benvloed kan word.

Japan se weerdiens het aangedui dat rukwinde van tot 108 km per uur van Dinsdag af verwag kan word.

Dié weerdiens waarsku voorts hoewel die storm van Tokio na die noordoostelike streke soos Fukushima beweeg, word swaar reën, wind en hoë golwe oor ’n wydverspreide gebied, waaronder die hoofstad, voorspel.

Organiseerders van Tokio 2020 hou egter vol dat die storm nie in dié stadium ’n uitwerking op ander Spele-aktiwiteite sal hê nie.

“Ons sal die weervoorspelling fyn dophou en gebeurlikheidsplanne in werking stel indien nodig.”

Dit blyk verder dat die storm moontlik in ’n tifoon kan ontaard. Japan se tifoonseisoen vind tussen Mei en Oktober plaas en bereik sy piek in Augustus en September. Dié storm kan moontlik ook ’n uitwerking op ander sportsoorte soos branderplankry en wedvaart hê.

Tifoon Hagibis het Japan in 2019 tydens die Wêreldbeker-rugbytoernooi getref en die lewe van meer as 100 mense geëis. Organiseerders moes noodgedwonge drie poelwedstryde kanselleer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.