Trump permanent op Twitter verban

(Illustrasie: Justin Sullivan/Getty Images)

Twitter het Vrydagaand aangekondig dat die uittredende Amerikaanse pres. Donald Trump se rekening op dié platform permanent opgeskort is.

“Ná ʼn noukeurige hersiening van twiets op die @realDonaldTrump-rekening, het ons die rekening permanent opgeskort weens die risiko van verdere aanhitsing tot geweld,” het Twitter gesê.

Die president het nagenoeg 88,7 miljoen volgelinge op Twitter gehad.

Trump het Vrydag in sy laaste twiet aangekondig dat hy nie die verkose president Joe Biden se presidensiële inhuldiging later vandeesmaand gaan bywoon nie. “Aan almal wat gevra het, ek sal nie na die inhuldiging op 20 Januarie gaan nie,” het die twiet gelui.

Pres. Donald Trump. Foto: (AP Photo/Carolyn Kaster)

Biden het intussen gesê dit is ʼn “goeie ding” en sy voorganger as ʼn “verleentheid” bestempel.

Trump sal die eerste Amerikaanse president wees wat die inhuldiging van ʼn opvolger sedert 1869 misloop.

Trump se Twitterrekening is vroeër vandeesweek tydelik vir 12 uur versper nadat ondersteuners van die uittredende president Woensdag die Kongresgebou (Capitol) in Washington D.C. bestorm het.

Vier betogers is by die Kongresgebou dood, onder wie ʼn vrou wat deur die polisie geskiet is, waarna ʼn polisiebeampte in ’n hospitaal aan beserings beswyk het wat hy tydens ʼn struweling met betogers opgedoen het.

Trump is in dié stadium ook “onbepaald” op Facebook en Instagram verbied weens sy “gebruik van [Facebook] om gewelddadige opstand teen ʼn demokraties verkose regering aan te blaas,” het Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof van Facebook, Donderdag gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.