Twee doodgeskiet by tehuis vir gestremdes

Forensiese beamptes op die toneel waar twee mense doodgeskiet en twee beseer is by ʼn tehuis vir mense met verstandelike en maatskaplike kwessies in Alblasserdam (5 Mei 2022) (Foto: Sem van der Wal/ANP/AFP)

Twee mense is dood en twee beseer ná ʼn skietery Vrydag by ʼn tehuis in Nederland vir mense met verstandelike of maatskaplike probleme.

Die polisie sê hulle het ʼn man in hegtenis geneem ná die voorval in Alblasserdam, wat uitkyk op die bekende Kinderdijk-windmeule naby Rotterdam, ʼn Unesco-wêrelderfenisgebied.

ʼn 16-jarige meisie en ʼn 34-jarige vrou is doodgeskiet, het ʼn woordvoerder van die polisie op die toneel gesê, aldus die ANP-nuusagentskap.

ʼn 13-jarige seun en 20-jarige vrou het ernstige beserings opgedoen.

“Die verdagte is in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op die vuurwapen. Die ooggetuies word versorg en verdere hulp is gereël. Die ondersoek duur voort,” het die Rotterdam-polisie op Twitter gesê.

Die manlike verdagte is al ʼn paar jaar lank aan die polisie bekend “as verward en ʼn pes”, het verskeie Nederlandse media berig.

Die tehuis versorg kinders, jongmense en volwassenes met toestande soos outisme en Alzheimersiekte. Hulle werk op die plaas met diere as ʼn tipe terapie, berig uitsaaier NOS.

Twee nooddienshelikopters het reeds op die toneel geland en verskeie nooddiensvoertuie is buite die plaas gestasioneer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.