Tweede golf Covid-19-gevalle in Beijing aangemeld

‘n Werker maak ‘n glasdeur skoon by ‘n hospitaal in Beijing (17 Junie 2020) (Foto: AP Photo/Ng Han Guan)

China poog om vinnig sy hoofstad met 22 miljoen inwoners af te sper deur vlugte en treine te kanselleer te midde van kommer dat ʼn moontlike tweede golf Covid-19-gevalle in Beijing toeneem en na die res van die land kan versprei.

Owerhede het Woensdag meer as 1 200 van die vlugte van en na Beijing se twee lughawens gekanselleer en langafstand busdienste tot ʼn groot mate verminder. Inwoners is verbied om nienoodsaaklike reise buite die stad te onderneem en daar word vereis dat hulle eers getoets word, het munisipale beamptes gesê waar 31 nuwe gevalle van die nuwe koronavirus aangemeld is.

Dit is ʼn skerp ommeswaai ná die land in Maart ʼn oorwinning oor Covid-19 aangekondig het.

Chinese owerhede het die situasie in Beijing as “baie ernstig” beskryf. “Dit is baie kommerwekkend,” het partysekretaris Cai Qi aan ʼn vergadering van Beijing se staande komitee van die Kommunistiese Party gesê.

Lughawe-personeel in Beijing verwys ‘n reisiger vir ‘n Covid-19-toets (Foto: AP Photo/Ng Han Guan)

China het grootliks reis in en om die hoofstad beperk en plaaslike oordrag was so te sê iets van die verlede, tot 137 nuwe gevalle weer sedert verlede week aangemeld is. Die stad het Woensdag sy risikovlak van 3 na 2 verhoog. Skole en universiteite is gesluit en riglyne vir sosiale distansiëring is weer verskerp.

Sedert die virus teen die einde van verlede jaar in China kop uitgesteek het en wêreldwyd versprei het, was daar reeds meer as 8,1 miljoen bevestigde gevalle en minstens 443 000 sterftes, aldus Johns Hopkins-universiteit. Kenners voer aan die werklike getal is baie hoër, weens talle wat sterf sonder dat hulle getoets word.

Die VSA het die meeste infeksies en sterftes in die wêreld met ʼn dodetal Woensdag van nagenoeg 117 000.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Die Wolf ·

Dit gebeur wanneer jy goed wegsteek. Die sogenaamde kosmark is slegs n rookskerm om die aandag van Wuhan te herlei. Dieselfde is oppad by ons.

Anoniem ·

Amerika ondersoek die bedrywighede in die laboratorium in Wuhan al vir etlike jare.

JohanR ·

Dan het die hond sy eie stert gevang! As die ding deur die hele China versprei gaan die nog erger wees as die VSA. Hier in SA is ons al klaar in die tweede golf. Dis ANC-94 was die eerste golf, Covid-19 die tweede golf! Die ANC en Covid-19 saam is Apokalips-20!

Pierreli ·

Dis net vir my agterdogtig dat China nie hul hoof stede die eerste keer afgesonder het nie. Iewers is daar ‘n rot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.