Tweede golf sprinkane tref Oos-Afrika

ʼn Tweede golf sprinkane het die reeds geteisterde Oos-Afrika getref (Foto: Voedsel- en Landbou-organisasie via ANA)

Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) het Maandag aangekondig Oos-Afrika is die afgelope paar weke deur ʼn tweede golf sprinkaanplae getref.

Swaar reën en ʼn sikloon het ʼn nuwe ronde voortplanting tot gevolg gehad en swerms het Kenia en die suidelike dele van Ethiopië ingevaar.

Die FAO sê sprinkaanplae in Afrika bly “uiters kommerwekkend”, aangesien nog swerms in die twee lande besig is om te vorm en volwassenheid sal bereik, het The Jerusalem Post Maandag berig.

Die oplewing van die sprinkaanplaag vind plaas tydens die plantseisoen en kan ʼn “ongekende bedreiging” inhou vir voedselsekuriteit, aldus die VN.

“Die laaste keer wat Afrika ʼn oplewing van sprinkane op dié skaal in die Sahel beleef het, het dit twee jaar en meer as US$500 miljoen gekos om dit onder beheer te bring. Hierdie oplewing is selfs groter, maar Oos-Afrika is oorgehaal om ʼn einde daaraan te bring, mits die regerings die vliegtuie in die lug kan hou,” het Laurent Thomas, adjunk- direkteur-generaal van die FAO, gesê.

“Die sprinkaan-bekampingsmasjien wat in Oos-Afrika gemonteer word, is nou ten volle toegerus om die rekordplaag te beheer, te onderdruk en, glo ons, uiteindelik tot ʼn einde te bring.”

Die tweede golf sluit meer jong volwassenes in wat kuddegedrag van die vorige generasie oorgeërf het en veral gulsig vreet. Die eerste golf sprinkane is in Januarie verlede jaar in Oos-Afrika aangemeld toe swaar reën grootskaalse voortplanting tot gevolg gehad het, aldus die FAO. Terwyl toestande in sommige dele droog bly, sal die swerms na verwagting deur die suidelike en noordelike dele van Ethiopië en die noordelike dele van Kenia beweeg.

Volgens die FAO sal enige reën in die volgende paar weke veroorsaak dat die swerms volwassenheid bereik en eiers lê wat sal uitbroei wat weer in Februarie en Maart tot swerms sal lei.

Intense grond- en lugbeheerbedrywighede duur in albei lande voort om huidige swermbevolkings te verminder sodat die skaal van die volgende broeiseisoen kleiner kan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jan ·

Ek vertrou van harte dat die “intense grond- en lugbedrywighede” nie die gebruik van gifstowwe insluit nie want dan word die sprinkane beskerm deurdat die gif hulle natuurlike vyande uitwis.

Dr C ·

Sprinkane kan as voedselbron meehelp om hongersnood en wanvoeding te verminder. Ek hoop dat die FAO ook maniere ondersoek om die swerms gratis proteiene te kan benut.

Karina ·

My groot ouers en ouers het in “hulle dae” sprinkane ge-eet.

Grassie ·

Ons land het ook ‘n sprinkaanplaag wat ons noordelike grense in hordes oorsteek en besig is om ons land op te vreet

Sylvia ·

Vang die goed in vangnette, gee dit vir ‘n sogenaamde bekende sjef en woeps daar word dit ‘n dure delikatessen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.