Tweejarige skiet sussie (4) dood

Die vulstasie waar die voorval plaasgevind het. (Foto: Skermgreep van Google Maps)

’n Vierjarige Amerikaanse kleuter is dood toe haar tweejarige boetie haar per ongeluk met ’n vuurwapen in hul pa se motor by ’n vulstasie in Pennsilvanië doodgeskiet het.

Die voorval het hom Dinsdag by ’n brandstofpomp by die Eagle Save Mart in Chester afgespeel.

Die plaaslike polisie sê beamptes is net voor 11:00 (Amerikaanse tyd) na die betrokke vulstasie ontbied. ’n Voorlopige ondersoek het onthul dat ’n tweejarige seuntjie ’n vuurwapen in die geparkeerde motor by ’n brandstofpomp hanteer en toe afgevuur het.

Die koeël het sy ouer sussie, wat ook in die motor gesit het, getref.

CBS Philadelphia berig omstanders het ’n enkele skoot vanuit die motor gehoor. Die pa het glo buite die motor gestaan toe die skoot afgevuur is.

Volwassenes op die toneel het die dogtertjie na ’n nabygeleë hospitaal gehaas waar sy dood verklaar is.

Ooggetuies sê die kinders is altyd saam met hul pa in Chester gewaar.

“Ek sou hulle elke oggend sien,” vertel inwoner Theodore Thaddeus Crump. “Hy is ʼn goeie ou. Hy het elke dag werk toe gegaan en sy kinders saam met hom gevat. Dit was vir hom die belangrikste ding. Hulle pa is ʼn baie goeie man.”

Dié voorval volg enkele weke nadat ʼn driejarige Amerikaanse kleuter per ongeluk sy ma doodgeskiet toe hy met ʼn vuurwapen in hul motor gespeel het.

Dié voorval het in die parkeerterrein van ʼn supermark in Dolton, ʼn voorstad van Chicago, plaasgevind.

Die seuntjie het in sy karstoeltjie op die agtersitplek van die gesinsmotor gesit toe hy oënskynlik ongesiens sy pa se pistool in die hande gekry en later die sneller getrek het.

Everytown For Gun Safety, ʼn Amerikaanse organisasie wat hom beywer vir strenger toesig oor vuurwapens, sê daar was vanjaar reeds minstens 51 onopsetlike skietvoorvalle deur kinders in die VSA. Dié voorvalle het die lewe van 17 mense geëis en 38 mense gewond gelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Misky ·

Dis vreeslik hartseer en tragies. Die man klink baie lief vir sy kinders en ek glo dit was nie agterlosig nie. Soveel ry met vuurwapen onder die sitplek vir veiligheid en kinders baie nuuskierig en oplettend. Simpatie met die arme man.

Hennie Biebouw ·

Nou verduidelik jy asseblief vir my hoe op aarde ‘n tweejarige, wat op die agtersitplek in sy karstoeltjie vasgegespe is, ‘n vuurwapen onder die voorste sitplek in die hande kry?

Misky ·

Sjoe Hennie, hoe moet ek nou weet? Ek praat van die spesifieke berig waar die boetie sy sussie geskiet het. My punt is dit klink of die pa baie lief was vir sy kinders en ek kry hom jammer oor wat gebeur het.

MakersMark ·

Ongelooflike swak beheer oor wapen veiligheid. Kla die eienaar van die vuurwapen aan vir moord. Hoe los ‘n ouer ‘n oorgehaalde wapen by twee peuters?

Sandra ·

Mense beveilig julle vuurwapens. Dis nou al die hoeveelste tragedie van so ‘n aard in ‘n kort rukkie.

AndrewL ·

Dit is baie hartseer en uiters onnodig.

As jy ‘n vuurwapen besit, is jy verantwoordelik om te sorg dat geen kind by dit kan kom nie. Ek mag hardvogtig klink, maar hierdie voorvalle gebeur al te dikwels.

Kinders word van baie jong ouderdom blootgestel aan tv en videospeletjies waar wapengebruik uitgebeeld word sonder dat hul die emosionele intelligensie het om die gevolge te verstaan. Hul eksperimenteer dan met speelgoed- en regte wapens met tragiese gevolge van ‘n iuer, sibbe of vriend wat gewond of gedood word.

LD ·

Dis verskriklik hartseer! Wanneer gaan mense leer!? Enkele weke voor die geval was daar ‘n ander geval en so ook nog ‘n hele paar voor dié! Ai mense bring baie hartseer oor hulself omdat hulle dink dit kan nie met hulle gebeur nie! :( Eerder ‘n bang Jan as ‘n dooie Jan! Mens maak mos seker ‘n vuurwapen is buite die bereik van klein kinders en selfs groter kinders deesdae! Jare terug het die kinders op die plase voëltjies geskiet en hulle het geweet hoe om ‘n vuurwapen te hanteer, daar was gevalle maar nie so baie soos vandag se tye nie!

Hennie Biebouw ·

“Die seuntjie het in sy karstoeltjie op die agtersitplek van die gesinsmotor gesit toe hy oënskynlik ongesiens sy pa se pistool in die hande gekry en later die sneller getrek het.”

Nonsens! Iemand het die pistool vir die kind gegee om mee te speel. ‘n Tweejarige ‘n ‘n karstoeltjie kry nie ongesiens ‘n pistool in die hande nie….Maar heelaas, dit is Chicago…

Janine ·

Ek moet saamstem. Dis net vreemd. Verder is ‘n 2jarige sekerlik nie in staat om ‘n sneller te trek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.