Tweeling gebore vir ma met twee baarmoeders

Kelsey Hatcher en haar man, Caleb, met hul tweelingdogtertjies (21 Desember 2023) (Foto: Andrea Mabry/University of Alabama Birmingham/AFP)

ʼn 32-jarige vrou van Alabama, wat met twee baarmoeders gebore is en terselfdertyd in albei swanger geword het, het op verskillende dae geboorte geskenk aan tweelingdogtertjies.

“Ons wonderwerk-babas is gebore!” het Kelsey Hatcher, wat haar storie op haar Instagram-profiel gedeel het, Vrydag in ʼn plasing geskryf.

Sy sê die dogtertjies “statisties só seldsaam dat hulle sommer besluit het om hul eie verjaarsdae te hê”.

Die eerste baba, Roxy Layla, is Dinsdag om 19:49 (0149 GMT Woensdag) gebore. Rebel Laken is Woensdagoggend om 06:09 gebore. Elkeen het meer as 3,2 kg geweeg.

Dokters het verwag dat die babas Kersfees hul verskyning sou maak, maar ná 20 uur se bevalling is die babas op 39 weke gebore.

Ma en babas is reeds uit die hospitaal ontslaan en Kelsey het onderneem om binnekort meer besonderhede oor die bevalling te deel.

Maroela Media het vroeër berig Kelsey weet reeds vanaf 17-jarige ouderdom dat sy ʼn seldsame toestand het wat behels dat sy met twee baarmoeders gebore is. Dié toestand kom by net sowat 0,3% van vroue voor.

Dié ma van drie het in Mei tydens ʼn roetineondersoek gehoor sy is swanger met ʼn tweeling, maar dat ʼn fetus in elkeen van haar baarmoeders ontwikkel het.

(Foto: Andrea Mabry via University of Alabama Birmingham/Facebook)

Shweta Patel, Kelsey se ginekoloog by Birmingham Women & Infants Center, het gesê swangerskappe in albei baarmoeders is uiters seldsaam. Met haar vorige swangerskappe was sy slegs in een baarmoeder swanger.

Patel meen wat heel waarskynlik gebeur het, is dat sy afsonderlik ovuleer het en een eiersel in elke fallopiese buis afgekom het, wat beteken dat dit aan elke kant van die baarmoeder afgekom het, en dan het spermselle na elke afsonderlike baarmoeder beweeg en bevrugting het afsonderlik plaasgevind.

Richard Davis, professor by die hospitaal se eenheid vir moeders en babas, het gesê die dubbele swangerskap het beteken dat die babas nie ʼn enkele beperkte baarmoeder hoef te deel nie. “Met Kelsey se babas het hulle elkeen hul eie baarmoeder, plasenta en naelstring gehad. Dit het hulle ekstra ruimte gegee om te groei en te ontwikkel.”

Die kans op ʼn dubbele swangerskap in twee baarmoeders is een uit 50 miljoen. Die jongste geval waarvan dokters weet was in 2019 in Bangladesj. Die 20-jarige Arifa Sultana se tweede baba is 26 dae ná die eerste een gebore.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.