Twitter kry goue, grys en blou regmerkies

Die foto mag nie na 24 Desember gebruik word nie!

(Foto: OLIVIER DOULIERY / AFP)

Twitter se nuwe baas, Elon Musk, het Vrydag aangekondig dat die platform binnekort verskillende kleure kentekens gaan bekendstel om tussen Twitterrekeninge te kan onderskei.

Maatskappye se rekeninge sal na verwagting teen volgende Vrydag deur ’n goue kenteken uitgeken word en die rekeninge van regeringsinstellings deur grys kentekens. Individue, beroemd of nie, se Twitterrekeninge sal ’n blou kenteken ontvang.

Volgens Musk sal alle geverifieerde individuele rekeninge dieselfde blou kenteken hê, hoewel sommige rekeninge uiteindelik ’n “sekondêre klein logo” sal kan vertoon wat wys dat hulle aan ’n organisasie behoort indien dit as sodanig deur daardie organisasie geverifieer is.

Alle geverifieerde rekeninge sal nou met die hand geverifieer word voordat kleure aan die rekeninge toegeken sal word.

Die aankondiging volg kort nadat Twitter se nuwe baas voorgestel het dat gebruikers betaal om geverifieer te word en ’n blou regmerkie op hul rekening te verkry. Die plan het egter in die hek geduik toe baie rekeninge wat vir die blou regmerkie betaal het, aan die begin van vandeesmaand hulself as wêreldleiers, bekendes of maatskappye voorgedoen het.

Musk het aanvanklik die bekendstellingsdatum vir die nuwe funksie op Twitter tot 29 November uitgestel. Dit is intussen weer uitgestel en dit lyk nou of die funksie op 2 Desember eindelik bekendgestel sal word.

Musk het vroeër gesê hy wil Twittergebruikers laat betaal vir die gebruik van dié sosialemediaplatform om sy inkomstestroom te diversifiseer. Twitter is tans vir 90% van sy inkomste van advertensies afhanklik.

Die helfte van Twitter se top‑100‑adverteerders het sedert Musk die platform gekoop het, aangekondig dat hulle hul besteding op die sosiale netwerk opgeskort het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.