Ultramarathon-kampioen geskors oor ‘saamrygeleentheid’ by wedloop

Joasia Zakrzewski (Foto: Firat Topal/X)

ʼn Skotse ultramarathon-kampioen is vir ʼn jaar geskors ná daar bevind is dat sy ʼn motor tydens ʼn 80 km-wedloop gebruik het en daarna die derdeplek-trofee aanvaar het.

Joasia Zakrzewski (47) het op 7 April vanjaar aan die Manchester to Liverpool Ultra 50-byeenkoms deelgeneem. Daar is egter later vasgestel dat sy vir ongeveer 4 km (2,5 myl) in ʼn motor gereis het ná karteringdata gewys het dat sy ʼn myl (1,6 km) binne net een minuut en 40 sekondes afgelê het.

Die dokter, wat naby Sydney woon, het aan BBC gesê dat sy tydens die marathon – naby die halfpadmerk – geweldige pyn ondervind het. Sy het die vorige dag uit Australië gevlieg om aan die ultramarathon deel te neem en het glo vlugvoosheid ervaar.

Sy het ʼn saamrygeleentheid in ʼn vriend se motor na die volgende kontrolepunt aanvaar met die bedoeling om aan beamptes te sê dat sy haar aan die wedloop onttrek.

“Toe ek by die kontrolepunt kom, het ek vir hulle gesê ek onttrek my en dat ek in die motor was, maar hulle het net gesê ‘jy sal jouself haat as jy nou ophou’.

“Ek het daarna ingestem om op ʼn niemededingende manier met die wedloop voort te gaan,” sê Zakrzewski.

Maar toe sy die eindstreep oorsteek, is ʼn medalje en ʼn trofee aan haar oorhandig.

“Ek het ʼn groot fout gemaak met die aanvaarding van die trofee en moes dit teruggegee het. Ek was moeg en het siek gevoel. Ek gooi my hande in die lug. Ek moes die trofee teruggegee het en nie vir die foto’s poseer nie, maar ek het sleg gevoel en nie helder gedink nie,” sê sy.

Zakrzewski sê sy is spyt dat sy nie aan die einde van die wedloop vir beamptes gesê het dat sy nie mededingend gehardloop het nie, maar het bygevoeg: “Dit was nie kwaadwillig nie, dit was net wankommunikasie.”

Wayne Drinkwater, GB-Ultras se direkteur, sê hy het inligting ontvang dat ʼn atleet ʼn “onsportiewe, mededingende voordeel tydens ʼn gedeelte van die byeenkoms” verkry het.

Die derde plek is later aan ʼn ander deelnemer toegeken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Niklaas ·

Dis nie die eerste keer dat so iets deur ‘n lang afstand atleet gedoen word nie. Ek sluk swaar aan haar verskoning en verduideliking.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.