Velkanker by Fergie gediagnoseer

Sarah ‘Fergie’ Ferguson, hertogin van York, in Mei 2018 op die bruilof van prins Harry en Meghan Markle. (Foto: Gareth Fuller/POOL/AFP)

Maande nadat ʼn vroeë vorm van borskanker by Sarah “Fergie” Ferguson gediagnoseer is, is velkanker nou ook by haar gediagnoseer.

“Na aanleiding van haar diagnose met ʼn vroeë vorm van borskanker hierdie somer, is Sarah, hertogin van York, nou gediagnoseer met ʼn kwaadaardige melanoom,” het haar woordvoerder Sondag bekend gemaak.

Volgens die woordvoerder het Ferguson, prins Andrew se eksvrou, onlangs toetse ondergaan wat eindelik tot haar diagnose gelei het. Die toetse is deur ʼn dermatoloog aangevra voordat Ferguson, wat vroeër ʼn mastektomie ondergaan het, ʼn borsrekonstruksie sou ondergaan.

Ferguson (64) het verskeie moesies laat verwyder en ontleed. Een daarvan was kankeragtig.

“Sy ondergaan verdere ondersoeke om te verseker dat dit in die vroeë stadiums opgespoor is.

“ʼn Ander diagnose so kort ná behandeling vir borskanker was ongetwyfeld ontstellend, maar die hertogin bly in goeie luim.

“Sy glo haar ervaring onderstreep die belangrikheid daarvan om die grootte, vorm, kleur en tekstuur van moesies, asook die vorming van nuwe moesies as moontlike tekens van melanoom na te gaan,” sê die woordvoerder.

Dié nuus volg kort nadat Buckingham-paleis verlede week gesê het dat koning Charles III behandeling vir ʼn vergrote prostaat moet ondergaan.

Prinses Catherine, die hertogin van Wallis, is ook verlede week in ʼn hospitaal opgeneem vir ʼn beplande operasie aan haar buik.

Catherine sal eers ná Paasnaweek haar koninklike pligte hervat.

Ferguson en prins Andrew is in 1996 ná 10 jaar saam geskei, maar woon steeds saam. Hulle het twee dogters, prinses Beatrice en prinses Eugenie, asook drie kleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.