Verbruikers gewaarsku: 13 babas dood in babawiegie

Fisher-Price se babawiegies (Foto: Twitter)

’n Waarskuwing is aan Amerikaanse ouers gerig om nie die speelgoed-handelsnaam Fisher-Price se babawiegies te gebruik nie, nadat 13 babas tussen 2009 en 2021 in dié toestelle gesterf het.

CNN berig die sterftes het gebeur toe die babas in Fisher‑Price se Baba-tot-Kleuter- en Pasgebore-tot-Kleuter-babawiegies aan die slaap geraak het. Die produk word ook in Suid-Afrika verkoop.

Die maatskappy, saam met die Amerikaanse Verbruikersprodukveiligheidskommissie, het gesê die wiegies moet nooit vir slaap gebruik word nie en babas moet nooit sonder toesig daarin gelaat word nie. Dit is nie seker hoekom hierdie babas gesterf het terwyl hulle in die wiegies geslaap het nie.

Fisher-Price het verlede jaar ’n soortgelyke produk herroep ná vier babas gesterf het nadat hulle in die 4-in-1 Rock ’n Glide Soother-wiegie op hul rug geplaas is. Dié sterftes, almal kinders onder 4 maande oud, is tussen April 2019 en Februarie 2020 aangemeld.

Die Amerikaanse Verbruikersprodukveiligheidskommissie het in 2019 nog ’n soortgelyke Fisher-Price-produk, die Rock ’n Play Sleeper-wiegie, herroep nadat 30 babasterftes aangemeld is. Dokters, ouers en kampvegters vir verbruikers het die maatskappy glo jare lank gewaarsku dat die produk onveilig is en herroep moet word.

’n Nuwe regulasie wat deur die Amerikaanse Verbruikersprodukveiligheidskommissie gefinaliseer is, vereis nou dat baba-slaapprodukte ’n slaapoppervlakhoek van 10 grade of minder het, sodat dit amper parallel met die vloer is. Die reël tree op 23 Junie 2022 in werking.

Fisher-Price en die veiligheidskommissie het gesê die beste slaapplek vir babas is op hul rug op ’n ferm, plat oppervlak sonder komberse of ander voorwerpe naby hulle.

Fisher-Price het sedert die 1990’s meer as 17 miljoen babawiegies wêreldwyd verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

KatjieDeKat ·

Lyk my Fisher Price moet maar n ander besigheidsmodel kry. Met soveel sterftes is dit duidelik dat baba produkte liewer nie deur hulle gemaak moet word nie.

JohanEtz ·

Sal graag wil weet wat die oorsaak sou wees?

As 30 bejaardes in rolstoele sterf, oor dieselfde tydperk, gaan alle rolstoele onttrek word?

Simpatie met die ouers….

Talitha ·

Ek voel bitter jammer vir die ouers, maar ek dink nie dis Fisher-Price se skuld nie. Elke ouer maak mos soveel dit in jou beheer is, seker jou kind is veilig as hy/sy slaap. Ek dink nie die stoeltjies was vir slaap bedoel nie. En indien jou kind wel daar aan die slaap geraak het hou jy hul soos ‘n valk dop. Soos as jou kind per ongeluk op enige ander plek aan die slaap sou raak.

JohanEtz ·

Sal graag wil weet wat die oorsaak sou wees?

As 30 bejaardes in rolstoele sterf, oor dieselfde tydperk, gaan alle rolstoele onttrek word?

Simpatie met die ouers….

Jsgroen ·

Lees die berig weer. Wiegies is verkeerd ontwerp. Fischer-Price was al daarteen gewaarsku.

miavos ·

By nadere ondersoek sal gevind word dat dit nie die Fischer-Price produkte is wat die probleem was nie.

Fritz ·

Daar word gepraat van 47 sterftes en 17 miljoen wiegies is verkoop. Kans dat ‘n baba in die wiegie sal sterf is ongeveer 0.0003%

Elize ·

Ek dink nie dis net Fisher price stoeltjies nie. Ek sien hordes ouers hulle kinders aan die slaap wieg in soortgelyke stoeltjies en dan los hulle hulle daarin om te slaap en ook karstoeltjies. Miskien knyp hulle nekkies die lugweg toe en hulle versmoor. Kommerwekkend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.