Vermiste Britse seun ná ses jaar in Frankryk gevind

Alex Batty was 11 jaar oud toe hy destyds vermis geraak het. (Foto: BBC / Greater Manchester Police)

ʼn Britse seun wat in 2017 saam met sy ma en oupa verdwyn het, is Woensdagoggend naby Toulouse in Frankryk gevind.

BBC berig dat ʼn motoris Alex Batty (17) Woensdag in die reën sien stap en by die tiener stilgehou het. Volgens Britse owerhede het Alex dié motoris se selfoon gebruik om ʼn Facebook-boodskap aan sy ouma in Brittanje te stuur wat sê “Ek is lief vir jou en wil huis toe kom”.

Alex was 11 jaar oud toe hy destyds vermis geraak het. Hy was saam met sy ma en oupa, Melanie en Alex Batty, met vakansie in Spanje. Melanie en David, wat nie voogskap van Alex het nie, word steeds in verband met sy verdwyning gesoek.

ʼn Polisiebron het aan BBC gesê dat die betrokke motoris, Fabien Accidini, Alex Woensdagoggend vroeg langs ʼn pad aan die voet van die Pireneë sien stap het.

“Hy [Alex] het verduidelik dat hy al vier dae lank stap. Hy het van ʼn bepaalde plek in die berge af geloop, maar nie gesê waar nie,” het Accidini gesê.

“Ek het sy naam op die internet opgesoek en gesien hy word vermis.”

Alex Batty (middel) het in 2017 saam met sy ma, Melanie, en oupa, David, verdwyn. Hy was 11 jaar oud. Melanie en David is steeds soek. (Foto: BBC)

In onderhoude met plaaslike media het Accidini gesê dat Alex by ʼn groot stad wou uitkom waar hy ʼn ambassade om hulp kon nader. Accidini het Franse owerhede ontbied om Alex te help.

Alex het Accidini se selfoon gebruik om sy ouma, Susan Caruana, op Facebook op te soek en aan haar die volgende boodskap gestuur:

“Hallo, Ouma. Dit is ek, Alex. Ek is in Toulouse in Frankryk. Ek hoop jy kry hierdie boodskap. Ek is lief vir jou en wil huis toe kom.”

Caruana is Alex se wettige voog.

Alex het aan polisiebeamptes gesê dat hy al twee jaar lank in Frankryk is. Volgens die polisie het die tiener baie na aan die laaste foto van ʼn 11 jaar oue Alex gelyk.

Hy het glo die afgelope tyd in die Pireneë rondgereis en in kommunes gewoon.

Dié gebied in die Pireneë is bekend daarvoor dat dit mense lok wat op soek is na “alternatiewe leefstyle”.

Alex wou egter nie sê waar presies hy gewoon het of waar sy ma is nie.

Sy ouma het intussen met hom kontak gemaak, aldus die koerant The Sun.

In ʼn onderhoud met dié koerant sê Caruana sy is “verheug”.

“Ek het met hom gepraat en dit gaan goed met hom. Dis ʼn groot skok.”

Caruana het in 2018 gesê sy glo Alex se ma en oupa het hom gevat om hulle saam met ʼn geestelike gemeenskap in Marokko te hervestig.

Melanie en David was in daardie stadium glo op soek na alternatiewe leefstyle en wou ook nie hê Alex moes skool toe gaan nie.

Melanie en David het Alex in September 2017 saam met hulle op ʼn voorafgoedgekeurde vakansie na Marbella in Spanje geneem, maar nooit teruggekeer nie.

Hy is op 8 Oktober 2017 vir die laaste keer by die hawe van Malaga gesien. Dit is die dag waarop hy veronderstel was om na Brittanje terug te keer.

BBC berig verder dat Britse owerhede deur die Britse ambassade in Parys gekontak is.

“Hierdie is ʼn ingewikkelde en langdurige ondersoek. Die nodige veiligheidsmaatreëls is getref,” het ʼn polisiewoordvoeder gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.