Verslag wys militante regimes vervolg Christene wêreldwyd meer

Neema en haar seun, David, het ʼn kerkaanval in die Demokratiese Republiek die Kongo oorleef. (Foto: Geopende Deure)

Militante en outokratiese regimes vererger vervolging veral vir Christene in Afrika suid van die Sahara.

Dit is maar een van die kommerwekkende tendense wat Geopende Deure se jongste Wêreldwaarnemingslys (WWL) uitgelig het. Op die lys is die top-50-lande waar Christene die ergste vervolging weens hul geloof ervaar. Dit skep bewustheid van die swaarkry wat vervolgde Christene elke dag in die gesig staar. Lande word daarop gelys volgens die erns van vervolging en diskriminasie wat Christene wat daar bly, ervaar.

Geopende Deure is veral bekommerd oor verskeie skokkende voorvalle van vervolging in Afrika wat die afgelope 12 maande die nuusopskrifte gehaal het, insluitende verskeie gruwelike gebeure in Nigerië. Gewapende mans van die militante Fulani-bendes het minstens 200 mense in Christen-gedomineerde dorpe in die Plateau-staat, Nigerië, doodgemaak. Meer as 300 mense is ook in die aanval, wat minstens 36 dorpe reg oor die streek geteiken het, doodgemaak, en duisende huise is verwoes. Die goed gekoördineerde aanval het op Oukersaand begin en tot in die vroeë oggendure op 26 Desember aangehou.

In April tot Junie 2023 het verskerpte aanvalle op Christelike gemeenskappe in die Plateau-staat meer as 340 mense se lewens geëis en nog 80 000 is ontwortel. Altesaam 54 dorpe is geraak in hierdie ernstige vlaag van geweld en amper daaglikse aanvalle, wat meestal in die Mangu Plaaslike Regeringsgebied gebeur het.

Kommerwekkende syfers

Meer as 365 miljoen Christene staar hoë vlakke van vervolging en diskriminasie in die gesig weens hul geloof – meer as laasjaar se syfer van 360 miljoen. Dié syfer verteenwoordig een uit elke sewe Christene wêreldwyd, op van een uit elke agt drie jaar gelede. In die WWL se top-50-lande alleen ervaar 317 miljoen Christene baie hoë of uiterste vlakke van vervolging of diskriminasie weens hul geloof.

Oor die 31 jaar van Geopende Deure se WWL-rapportering het die aantal lande waar Christene uiterste, baie hoë of hoë vlakke van vervolging ervaar amper verdubbel van 40 lande in 1993 tot 78 lande in 2024.

Sommige van die grootste bekommernisse op vanjaar se lys, buiten die geweld teenoor Christene in sub-Sahara Afrika wat nuwe hoogtes bereik het, is die invloed van radikale Islamitiese elemente en outokratiese regimes wat onstabiele politieke toestande regoor die Afrika-vasteland uitbuit, die Wagner-groep wat Mali geïnfiltreer het, die styging in geweld teenoor Christene in Indië, die toename in kerkaanvalle in China, Indië en verskeie ander lande, en die skerp toename in vervolging in Nicaragua.

Top-5-lande

Noord-Korea beklee weereens die nommer-een-plek op die WWL. Christene hier word gedwing om hul geloof in algehele geheimhouding te beoefen. Inligting oor strooptogte bereik selde die internasionale media, maar een geval het in April 2023 uitgelek toe vyf Christene in ʼn afgeleë plaashuis in sentrale Noord-Korea vergader het om saam te bid – net om uit te vind dat die polisie ʼn wenk van ʼn informant gekry het en hulle inwag. Die vyf Christene wat in hegtenis geneem is, staar nou jare se harde dwangarbeid in die gesig.

Somalië is weereens vanjaar in die tweede posisie – dieselfde as verlede jaar. Hierna volg Libië in die derde plek, Eritrea in die vierde plek en Jemen in die vyfde plek.

 WWL 2024 in getalle

 Van die belangrikste tendense op die 2024 WWL is:

  1. Altesaam 4 998 Christene is wêreldwyd in geloofsverwante aanvalle doodgemaak. Die syfers is waarskynlik veel hoër, maar gevalle word nie altyd aangemeld nie.
  2. ʼn Sewevoudige toename in aanvalle op kerke, Christen-skole en hospitale vanaf 2 110 in 2023 se lys tot 14 766 in die jongste WWL.
  3. Christene wat aangerand of gedreig word, het toegeneem vanaf 29 411 aangemelde sake in 2023 tot 42 849 in 2024.
  4. Altesaam 365 miljoen Christene – een uit elke sewe wêreldwyd – ervaar hoë vlakke van vervolging en diskriminasie weens hul geloof – op van verlede jaar se syfer van 360 miljoen.
  5. Vyf uit die top-10-lande op die 2024 WWL is in Afrika.

Nigerië ʼn knelpunt in Afrika

Die brutale aanvalle in die Plateau-staat, Nigerië, het pastoor Zachariah se lewe onherroeplik verander.(Foto: Geopende Deure)

Dié WWL wys dat Christene in Nigerië, wat nou in die sesde posisie op die lys is, van die ergste teistering en vervolging ervaar. Verskeie militante groepe voer strooptogte op Christen-gemeenskappe uit waartydens mense doodgemaak, vermink, verkrag en vir lospryse of seksuele slawerny ontvoer word.

Meer as 82% van Christene wat vanjaar wêreldwyd weens hul geloof doodgemaak is, was in Nigerië en geloofsverwante moorde in sub-Sahara het dié in enige ander streek op die jaarlikse lys ver oortref. Hierdie tendens kan al vir verskeie jare gesien word.

Net soos die vorige jaar, was Nigerië vir sowat nege uit elke tien godsdienstig gemotiveerde moorde in Afrika se WWL-lande verantwoordelik. Die aantal moorde in dié lande is egter waarskynlik selfs hoër omdat dit moeilik is om tydens konflik en die nasleep daarvan betroubare verslae oor die impak van geweld te kry.

Intense geweld in Ethiopië (32) het meegebring dat die aantal aanvalle op kerke en skole skerp toegeneem het. Daar was ook ʼn opwaartse styging in die aantal ondernemings wat deur Christene besit word, wat in Burkina Faso (20) en die Sentraal-Afrikaanse Republiek (28) geplunder of gekonfiskeer is.

Hierdie tendense word elders in Afrika en in ander lande op die jaarlikse lys weerspieël omdat aanvalle wêreldwyd toegeneem het.

Minstens 4 606 Christene is weens hul geloof doodgemaak in 18 van die 26 lande op die WWL wat suid van die Saharawoestyn is. Altesaam 15 van hierdie 26 lande het die hoogste vlak bereik in die telling vir algehele geweld. Ten minste 16,2 miljoen Christene in sub-Sahara Afrika is teen die einde van 2022 gewelddadig ontwortel.

Radikale Islamitiese elemente en outokratiese regimes

Radikale Islamitiese elemente wat onstabiele politieke toestande uitbuit, is ʼn algemene gesig regoor Afrika. Regerings- en veiligheidsgebreke maak die deur oop vir jihadistiese aktiwiteite wat byvoorbeeld in Burkina Faso (20), Mali (14), Mosambiek (39), Nigerië (6) en Somalië (2) gesien word.

“Die bedreiging van Islamitiese militante in sub-Sahara Afrika af het skerp toegeneem tot op die punt waar baie Christene in die streek toenemend in vrees moet leef,” sê Frans Veerman, besturende direkteur van die Open Doors World Watch Research.

“Christene word doelbewus geteiken of is ekstra kwesbaar op ʼn vasteland wat deur die dubbele probleme van radikale Islamitiese elemente en toenemende outokratiese regimes oorheers word. Dit is die altyd-groeiende bedreiging vir Christene suid van die Saharawoestyn, en indien dit ongemerk gelaat word, word dit verwag dat hierdie dubbele druk hulle sal oorweldig en uit hul huise en dorpe sal dwing.

“Regerings in die streek moet betekenisvolle aksie neem om die groeiende invloed van jihadistiese groepe aan te spreek en dit prioritiseer om kwesbare mense teen hul aggressors te beskerm. Sonder dié aksie sal Christelike gemeenskappe wat eens op ʼn tyd gefloreer het, verdwyn.”

Kerksluitings en -aanvalle

Kinders in die krotbuurte van Delhi, Indië. (Foto: Geopende Deure)

China (19) en Indië (11) was die grootste oortreders wat kerksluitings en -aanvalle betref. Syfers wys dat ʼn beraamde 10 000 kerke in China gesluit en 2 228 in Indië aangeval is. Hierdie twee lande vorm saam amper 83% van al die sluitings- en aanval-insidente op kerke in alle lande op die 2024-lys.

China het duisende kerke gesluit deur ʼn stel ou en nuwe outoritêre maatreëls. Groot ongeregistreerde “huiskerke”, wat in hotelle of kantoorblokke ontmoet het, is gedwing om in ʼn magdom minder sigbare huisgroepe te versplinter, en baie van die persele vir staatsgoedgekeurde kerke is gedwing om te sluit en met groter kerke saam te smelt.

In kontras hiermee is kerkaanvalle in Indië deur aggressiewe skares gepleeg. Volgens aartsbiskop Dominic Lupon van Imphal is 249 kerke in die eerste 36 uur van die Manipur-geweld vernietig.

Kerkaanvalle in Angola (71), Burkina Faso (20), Ethiopië (32), Nicaragua (30), Nigerië (6), Niger (27), Rwanda (63) en Soedan (8) was ook besonder hoog.

Lynette Leibach, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, sê: “Terwyl ons terugkeer werk toe, skool toe en na ʼn normale lewe ná die vakansie, wys die navorsing die ernstige situasie wat deur al meer lede van ons Christen-familie in die gesig gestaar word – veral op ons eie vasteland.

“Ek word weereens uitgedaag deur die feit dat daar agter elke statistiek ʼn individuele volwassene of kind, familie of gemeenskap is wie se lewe nie ongestoord voortgaan nie. Om in woord en daad by hulle te staan, is ʼn saak van dringendheid.”

Besoek www.opendoors.org.za om die volledige 2024 Wêreldwaarnemingslys, die top-50-landprofiele en vervolgingstatistieke, sowel as die top-50-lande se media- en voorspraakdossiere, te besigtig en af te laai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Chris ·

Mense ons moet die Here dank vir godsdiensvryheid in ons land .Ten minste krap ons regering nog nie hieraan nie.Hoekom is baie van ons Christene so laks om nie die samekoms van gelowiges by te woon nie.Hy sèèn ons dan so mildelik

Johan ·

Ek sien niks van die Christene en kerke in Gaza wat platgeskiet is nie? Of is “god se mense” vry om dit maar te doen.

hpven ·

Godsdiensvryheid hier is in die weegskaal met die ANC wat tans Hammas omarm.

Cherokee ·

Johan, jy moet probeer om meer kundig te praat. Na wiè verwys jy as God (met ‘n hoofletter) se mense? Is jy dan nie bewus dat Israel nie ‘n Christelike land is nie? Christene in Israel is die minderheid. Gedink jy weet dit. Wanneer die kommentare gelees word, blyk dit nie algemene kennis te wees nie.

KB ·

Chris, jy is duidelik onvolledig ingelig. Daar is reeds wetgewing wat in die SA Parlement gedraai het om vrye Godsdiens in te perk/aan bande te lê (en die DA is nie juis “ons vriend” nie).

Gaitsigubib ·

Kom ons praat nie oor Christen kerke wat verban is deur die Zelensky regering nie. Ons se ook niks oor al die Christen predekante wat deur Justin Trudeau in die tronk geprop is nie. Dint wil mens nie hoor nie asseblief.

Theuns ·

Waar is NG kerk om te veroordeel?
Waar is NHK , APK, KATOLIEKE , METODISTE en almal.wat op papier Christene is?
Hul.stilte beteken Islam neem.oor sonder teenstand?
Of is wie leiers is meer belangrik?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.