Versoeters verhoog dalk risiko vir hartsiektes – studie

Argieffoto (Foto: 955169/Pixabay)

ʼn Uitgebreide navorsingstudie wys dat kunsmatige versoeters moontlik verbind kan word met ʼn hoër risiko vir hartsiektes. Kenners waarsku egter die bevindings moet versigtig beoordeel word.

Die bevindings is Donderdag bekendgemaak nadat navorsers aan die Franse Inserm-instituut die data van meer as 100 000 volwassenes in Frankryk bestudeer het. Die Inserm-instituut is ʼn navorsingsorganisasie wat hom spesifiek op menslike gesondheid toespits.

Die deelnemers aan die studie het almal hul dieet, leefstyl en mediese geskiedenis tydens 2009 en 2021 aangemeld, as deel van die NutriNet-Sante-studie.

Altesaam 37% van deelnemers het aangedui dat hulle gemiddeld 42 mg kunsmatige versoeters daagliks gebruik. Dit is die ekwivalent van een sakkie versoeter of ʼn derde van ʼn blikkie dieetkoeldrank. Gedurende die daaropvolgende nege jaar is 1 502 hartprobleme aangeteken, waaronder hartaanvalle en beroertes. Die navorsing het aangedui dat hartsiektes voorkom onder 346 uit elke 100 000 mense wat hoë vlakke van versoeters inneem, teenoor die 314 uit elke 100 000 mense wat nié versoeters gebruik nie.

“Hierdie uitslae stem ooreen met ʼn onlangse verslag deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), wat daarop dui dat versoeters nie ʼn veilige alternatief vir suiker is nie,” het Mathilde Touvier, koördineerder van die studie, gesê.

Die WGO se verslag is in April uitgereik en sê “daar is geen ooreenstemming” oor die kwessie of versoeters wel doeltreffend aangewend kan word vir die verlies of handhawing van ʼn sekere gewig op lang termyn nie. Dit is ook nog onseker of versoeters met ander langtermyn-gesondheidsprobleme verbind kan word.

Nóg ʼn studie wat vanjaar deur Nutri-Net geplaas is, het ʼn verband tussen kanker en versoeters soos aspartaam, asesulfaam en sukralose gevind.

Hierdie soort studies word egter toenemend gekritiseer, aangesien dit nie in ag neem dat mense wat aan die studie deelneem oor uiteenlopende karaktereienskappe beskik nie. Die navorsing kan dus nie die moontlikheid uitskakel dat hartsiektes deur ander faktore veroorsaak word nie.

“Hierdie studies kan nie al ons vrae beantwoord nie,” het Naveed Sattar, ʼn professor in metaboliese medikasie verbonde aan die Glasgow Universiteit in Skotland, gesê. Hy was nie betrokke by die studie oor versoeters nie. Hy het gevra dat regerings langtermyn- en ewekansige proewe finansier sodat medici “nader aan die waarheid kan kom”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.