Versteekte selfportret van Van Gogh ontdek

Die selfportret was agter ‘n ander skildery versteek. (Foto: Neil Hanna/National Galleries of Scotland/AFP)

ʼn Kunsgalery in Skotland het onlangs op ʼn kosbare selfportret van die bekende kunstenaar Vincent van Gogh afgekom, wat agter ʼn ander skildery versteek was. Van Gogh het boonop in dié portret nog albei sy ore.

Die portret is op die agterkant van die skildery genaamd “Head of a Peasant Woman” wat in 1885 deur Van Gogh geskilder is, ontdek.

Die selfportret is steeds onder lae gom en karton versteek, maar besoekers aan Skotland se nasionale galery in Edinburgh sal dit by ʼn komende uitstalling as ʼn X-straalbeeld deur ʼn spesiaal ontwerpte ligkas kan sien.

Kurators is egter reeds besig om planne te beraam om die twee skilderye te skei, maar dit sal ʼn baie delikate operasie wees.

In Van Gogh se nuutontdekte portret word ʼn man met ʼn baard uitgebeeld, ʼn hoed met ʼn rand op sy kop en ʼn nekdoek wat losweg om sy nek geknoop is. Die skildery is voltooi voordat Van Gogh sy linkeroor in 1888 afgesny het.

Lesley Stevenson, senior skilderkunsbewaarder by die galery, sê hulle was uit hul nate van opgewondenheid oor die vonds.

“Toe ons die X-straal vir die eerste keer sien, wat ons so opgewonde. Dit is ʼn betekenisvolle ontdekking omdat dit bydra tot dit wat ons reeds van Van Gogh se lewe weet,” het sy gesê.

“Daar is baie om oor na te dink met betrekking tot die stappe vorentoe, maar vir nou is dit net nog ʼn klein deeltjie wat ons nader aan ʼn ongelooflike kunstenaar bring.”

Kurators meen die skildery is een van ʼn reeks eksperimentele selfportrette wat deur Van Gogh gedoen is. Vyf soortgelyke werke word by die Van Gogh-museum in Amsterdam vertoon – almal geskilder voordat hy in 1886 na Parys verhuis het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marthinus W ·

Ek het iewers gelees dat Paul Gauguin glo Vincent se oor afgesny het. Kon dit nog nooit bevestig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.