Video: Dieretuin-gorilla kry baba in natuur

Die 13-jarige ma hou die nuwe kleinding styf vas. (Foto: The Aspinall Foundation/AFP)

ʼn Babagorilla is vandeesmaand in ʼn nasionale park in Gaboen gebore – die ouers is twee gorillas wat hul lewe in dieretuine in Europa deurgebring het.

Volgens natuurbewaarders is dit die eerste keer ter wêreld dat twee gorillas wat in gevangenskap grootgemaak en later in die natuur vrygelaat is, lewe aan ʼn kleinding skenk.

“Die suksesvolle paring van die twee westelikelaagland-gorillas is ʼn deurbraak in die ingewikkelde proses om diere weer in die natuur vry te laat,” het Delphine Delord, assistentdirekteur van die Beauval-dieretuin, gesê.

Die 13-jarige ma, Mayombe, is in die Beauval-dieretuin in Frankryk gebore en Djongo, die 15-jarige pa, is in die Port Lympne-safaripark in die suide van Engeland grootgemaak.

Djongo is in 2013 in die Bateke Plateau- nasionale park in Gaboen in Sentraal-Afrika saam met sy pa, Djala, vrygelaat. Djala is in die natuur gebore en in 1986 na Brittanje geneem nadat hy gered is van stropers wat hom aan ʼn paal vasgemaak het.

Mayombe het haar in 2019 by dieselfde park aangesluit.

Die babagorilla is sowat twee weke gelede in die aand gebore en is volgens natuurbewaarders in ʼn goeie toestand.

“Dit is ʼn deurslaggewende oomblik om te hoor van die geboorte van die gorilla en ʼn stap in die regte rigting om dié spesie, wat naby aan uitsterwing is, te bewaar,” het die Aspinall-stigting gesê. Dié stigting bestuur die safaripark waar Djongo grootgemaak is.

Delord het egter gewaarsku dat die volgende paar maande allesbehalwe maklik gaan wees vir die pasgebore gorilla.

“Die natuur is wreed en enigiets kan gebeur. Die baba is broos, maar dit lyk asof Mayombe goed na die kleinding omsien. Djongo hou egter steeds sy afstand en nader die twee versigtig. Ons het selfs met behulp van versteekte kameras gesien hoe hy aan die baba vat,” het Delord gesê.

“Ons oorweeg dit om moontlik ʼn nuwe trop gorillas hier te vestig deur later ʼn ander wyfiegorilla van Engeland in dié park te bring.”

Die Aspinall-stigting het oor die afgelope paar maande agt swart renosters, 135 primate, 11 Europese buffels en 70 westelikelaagland-gorillas weer aan die natuur bekendgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Janee ·

Hoe styf houvas ons aan mamma!!….Is dit nie dierbaarnie.!! Mag dit die eerste van vele meer wees…..

Cherokee ·

In ‘n ander berig oor ‘n ma wat haar pasgebore baba vermoor het, wou een van die kommentators haar met ‘n dier vergelyk! Maroela Media wou soos gewoonlik nie my reaksie op sy kommentaar plaas nie. Kyk na hierdie dier en haar liefde vir haar baba, en dink weer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.