Vistenk met 1 500 visse bars in Berlyn

ʼn Dooie vis lê in die puin voor die Radisson Blu-hotel waar die AquaDom-akwarium gebars het (16 Desember 2022) (Foto: John MacDougall/AFP)

ʼn Yslike akwarium met ongeveer 1 500 tropiese visse het Vrydag in Berlyn in Duitsland gebars. Die hotel se ontvangs en die straat voor die hotel is oorstroom. Twee mense is beseer, het nooddienste gesê.

Dit is nog nie bekend wat veroorsaak het dat die 14 meter hoë AquaDom-akwarium omstreeks 05:50 (0450 GMT) gebreek het nie, het die polisie gesê.

“ʼn Miljoen liter water en al die visse het op die grondvloer van die hotel uitgespoel,” het ʼn woordvoerder van die Berlynse brandweer aan AFP gesê.

Twee mense het beserings opgedoen weens glassplinters. Hulle is na ʼn hospitaal geneem.

Meer as 100 nooddienswerkers is na die toneel ontplooi wat met glas en ander oorblyfsels besaai was.

Die AquaDom-akwarium (Foto: Radisson Blu/Facebook)

Die silindriese AquaDom, wat in 2004 oopgemaak het, was ʼn gewilde toeristebestemming in die Duitse hoofstad. Dit is geleë in die voorportaal van die Radisson Blu-hotel en het ʼn glas hysbak in die akwarium gehad wat besoekers aan die Sea Life Leisure-kompleks kon gebruik.

Volgens Sea Life se webwerf was die AquaDom die grootste silindriese, vrystaande akwarium in die wêreld.

Die polisie in Berlyn het op Twitter gesê die voorval het “ongelooflike maritieme skade” veroorsaak en honderde visse is dood.

Water het só sterk in Karl Liebknechtstraat uitgestroom dat die pad gesluit moes word. Moltreindienste is ook opgeskort.

Die gebied rondom die kompleks is afgesper en snuffelhonde is gebruik om na moontlike slagoffers te soek in die verwoesting.

Die AquaDom-akwarium (Foto: AquaDomSEALIFEBerlin/Facebook)

Foto’s en video’s wat Vrydag gedeel is, vermoedelik deur gaste in die hotel, wys die omvattende skade wat aangerig is. Slegs die raam van die akwarium het bly staan.

Duitse wetmaker Sandra Weeser, wat by die hotel tuisgegaan het, sê sy het wakker geword “met ʼn tipe skokgolf”. “Daar was ʼn bewing in die gebou en ek het aanvanklik gedink dit is ʼn aardbewing,” het sy aan die Berliner Morgenpost-koerant gesê.

Die plek waar die akwarium gestaan het, is nou “net donker en nat”, het sy bygevoeg.

Die hotel is ontruim en gaste is skuiling gebied in verhitte busse te midde van ysige oggendtemperature, het die woordvoerder vir die brandweer gesê.

ʼn Hommeltuig is gebruik om die omvang van die verwoesting te bepaal.

  • Hierdie video wys hoe die AquaDom eens gelyk het:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.