Vlugte opgeskort, skole gesluit: Mauritius wag op woeste storm

Tropiese sikloon Belal het verlede maand groot verwoesting op Mauritius veroorsaak. (Foto: Laura Morosoli/AFP)

Mauritius het vlugte opgeskort en skole is gesluit in afwagting van ʼn sterk tropiese storm wat Donderdag dié eilandnasie in die Indiese Oseaan behoort te tref. Storm Eleanor was teen Donderdag om 04:00 sowat 200 km noordoos van die eiland en beweeg teen ʼn spoed van sowat 20 km/h, sê die land se weerdiens.

“Die wind gaan aanvanklik uit die suidooste teen ʼn spoed van nagenoeg 40 km/h waai en sal teen vanmiddag ʼn spoed van sowat 110 km/h bereik en dan tot 120 km/h toenmeem.”

Die land se lughawe-operateur het aangekondig dat die fasiliteit gesluit gaan word en Air Mauritius het vlugte gekanselleer wat vanoggend moes vertrek. Openbare vervoerstelsels is opgeskort en skole gesluit.

Mauritius is beroemd vir sy prentjiemooi wit strande en turkoois water – maar die afgeleë eiland is ook reg in die pad van periodieke siklone.

Verlede maand is een persoon dood en duisende sonder krag gelaat toe tropiese storm Belal die eiland getref het. Talle geboue is oorstroom en daar was verkeerschaos.

Tussen November en April kom talle storms of siklone die suidwestelike Indiese Oseaan voor.

In Februarie verlede het sikloon Freddy swaar reën en sterk wind tot gevolg gehad en nie net dood en verwoesting in Mauritius gesaai nie, maar ook in lande soos Malawi, Mosambiek en Madagaskar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Duck ·

Miskien kan ‘n ou nou ‘n paar goedkoop vlugte optel en miskien nog ‘n goedkoper hotel vir ‘n week of so, ons in die Kaap is mos gewoont aan die Suid-Ooster windjie.

Leon ·

@Duck, nee wat, die hotelle kry genoeg euro’s in en sal eerder leeg staan as wat hul hul pryse sal laat sak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.