VN vergader Maandag oor krisis tussen Rusland, Oekraïne

‘n Weermaginstrukteur gee opleiding aan burgerlikes in die Oekraïne terwyl spanning tussen Rusland en sy buurland verhoog. (Foto: Sergei Supinsky/AFP)

Daar is al hoe meer aanduidings dat Brittanje, die VSA en ander bondgenote in die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie voorberei vir militêre optrede  – ten spyte van onsekerheid oor of Wladimir Poetin, president van Rusland, wel die Oekraïne in ʼn hernude aanval gaan binneval.

Sky News berig nou dat vyandigheid – eerder as ʼn bemiddelde oplossing vir die krisis – al hoe waarskynliker lyk.

Die Oekraïnse president, Volodymyr Zelensky, het die Weste egter daarvan beskuldig dat hulle “paniek” veroorsaak met waarskuwings oor ʼn dreigende inval, maar kenners waarsku die werklikheid op voetsoolvlak kan nie geïgnoreer word nie. Die Oekraïne is gewoond aan oorlog en is sedert 2014 gewikkel in ʼn konflik met separatiste – gesteun deur Moskou – wat reeds die lewe van 13 000 mense geëis het. Talle mense berei hul nou voor op ʼn verwagte aanval deur skuilings te bou en oorlewingstegnieke aan te leer.

Die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad sal Maandag vergader om die krisis in die Oekraïne te bespreek, met Washington wat volhou dat hy Moskou verantwoordelik gaan hou terwyl Navo-bondgenote regmaak om sanksies te verskerp, sou Rusland hul buurland binneval.

Vrese van ʼn dreigende aanval het die afgelope paar dae toegeneem, ten spyte van ontkennings uit Rusland en pleidooie uit die Oekraïne om nie verdere paniek te veroorsaak oor die enorme Russiese militêre teenwoordigheid op die grens nie.

Dié teenwoordigheid word al hoe groter en daar is in hierdie stadium sowat 130 000 weermaglede op die grens met die Oekraïne, terwyl daar ook al hoe meer wapentuig ontplooi word. Die Russe se voortgesette teenwoordigheid op die grens kom ten spyte van veroordeling deur Westerse bondgenote en druk op die Kremlin om hom aan die grens te onttrek.

(Argieffoto)

Reuters berig een van die sekerste aanduidings dat die Russe gereed maak om aan te val – en nie net besig is met militêre oefeninge nie – is berigte dat bloed en ander mediese voorraad om gewondes te behandel, toenemend deel van die Russiese voorraad uitmaak.

Poetin hou vol daar is geen planne om die Oekraïne verder binne te val nie, hoewel hy destyds ook enige betrokkenheid by Rusland se anneksering van die Krim-skiereiland in 2014 ontken het tot dit reeds gedane sake was.

Dié keer beskuldig hy Navo daarvan dat die organisasie ʼn veiligheidsrisiko vir Rusland inhou. Rusland eis ook dat alle Navo-troepe onttrek word aan Oos- en Sentraal-Europese lande wat vantevore onder die Sowjetunie se invloed gestaan het, asook dat die bondgenote glad nie verder ooswaarts uitbrei nie. Navo het dit egter duidelik gemaak dat daar onmoontlik aan dié eise voldoen kan word.

Diplomate het intussen die afgelope weke agter die skerms gewerk om maniere te vind om albei kante gelukkig te hou.

Te midde van toenemende spanning het die VSA gesê hy is bereid om terug te baklei teen enige “verkeerde inligting” wat Moskou wil voorhou. Die vergadering by die VN sal waarskynlik een wees wat die fynste in jare dopgehou word.

Die Russiese president, Wladimir Poetin. (Argieffoto: Mikhail Klimentyev/Sputnik/AP)

Rusland gaan Maandag na verwagting probeer om die vergadering te kelder, maar die “Veiligheidsraad is verenig. Ons stemme is verenig in die oproep dat Rusland moet kom verduidelik,” het Linda Thomas-Greenfield, die VSA se afgevaardigde by die VN, aan ABC News gesê.

“Ons is bereid om te luister, maar ons aandag gaan nie afgelei word deur hul propaganda nie,” het sy Sondag gesê. “En ons is voorbereid om te reageer op enige verkeerde inligting wat hulle by die vergadering gaan probeer versprei.”

Daar is sprake van hernude gesprekke tussen die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Antony Blinken en sy Russiese eweknie, Sergei Lavrov. Die voorsitter van die Amerikaanse senaat se komitee oor buitelandse sake het intussen ʼn taai houding ingeneem en gesê dit is belangrik dat Washington ʼn kragtige boodskap aan Poetin stuur dat enige aggressie teen die Oekraïne teen ʼn duur prys gaan kom.

Senator Bob Menendez het boonop op CNN gewaarsku dat dit onwaarskynlik is dat enige opmars van Poetin by die Oekraïne gaan stop.

Menendez sê sekere strawwe kan opgelê word vir die stappe wat Rusland reeds gedoen het – ook kuberaanvalle – maar dat daar “verwoestende sanksies gaan wees wat Rusland uiteindelik sal lamlê” indien Moskou besluit om die Oekraïne aan te val.

Liz Truss, Engeland se minister van buitelandse sake, het intussen gesê die land sal binnekort sanksies bekend maak wat ʼn wye verskeidenheid van Russiese ekonomiese teikens sal dek.

“Daar gaan nêrens vir Poetin se oligarge wees om weg te kruip nie,” sê sy.

Ontleders sê verskillende skansies teen Russiese banke en finansiële instellings gaan egter nie net die daaglikse lewe in Rusland raak nie, maar gaan ook ʼn geweldige uitwerking op groot ekonomieë in Europa en elders hê.

Westerse leiers is reeds besig om weermaghulp aan die Oekraïne te verskerp, terwyl daar ook voortgegaan word om die krisis diplomaties te probeer ontlont. Brittanje het reeds aangedui hy is bereid om soldate, wapens, oorlogskepe en vegvliegtuie beskikbaar te stel, maar hy sal na verwagting terselfdertyd volgende week met Poetin vergader.

Die verhouding tussen Rusland en die Weste is op die laagste punt sedert die Koue Oorlog, hoewel Rusland ontken dat hy ʼn gevaar vir die eertydse Sowjetrepubliek inhou en ʼn “eerbiedige” verhouding met die VSA wil handhaaf.

Bronne: Sky New, AFP, Reuters, ABC News, CNN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

B-Man ·

Gaan die kaders nie hulle ou “comrades” bystaan nie? Is mos gou om bek te rek oor die Gasa-strook en Palistina.

Shakespeare ·

Ons “kabinet” is vervuil met kaders met ‘n kommunistiese agenda insluitend Rama se sosialistiese siening. “Bottomline”. Jy kan NOOIT ‘n kommunis of sosialis vertrou nie

Alfred E Neuman ·

Rusland is nie kommunisties nie. Lees tog n bietjie en kry kennis.

Julius ·

Kyk hoe skrik Rusland nou vir die weste. Putin is ‘n leier wat hom nie laat voorskryf nie.

Colin ·

Hitler het hom ook nie laat voorskryf nie en daar was so aardige oorloggie as gevolg van sy megalomaniese houding. As die Weste terugsit en hom ongehinderd die Oekraïne laat binneval gaan hy nie daar stop nie. Die geskiedenis is vol van mense soos hy wat dan verrykende gevolge vir die w3êreld gehad het.

Anel ·

En ou Rama gaan seker sy bondgenoot, Rusland, ondersteun. Wonder net met watter Weermag? Sal graag wil sien hoe ploeter die lot in die sneeu rond en staak oomdat hulle nie 5 ster behandeling kry nie! LMGA!!

Ian ·

Rusland se politiekuste was nog al die jare n klomp skelms gewees tot hul etiese waardes het gewys by die olimpiese spele waar die hele span positief getoets het na hulle uitgevind het oor urine mosters wat omgeruil is ens. Rusland kon nog nooit vertrou word nie. Dit kom saam met kommunisme antchriste geen etiese standaarde nie.

annie ·

Dit is darem vreeslik interassant hoe mense Duitsland dadelik vergewe het nadat Hitler man-alleen oorlog gemaak het en op sy eie miljoene Jode gevange geneem en uitgemoor het. Net hy was boos en die res onskuldig. Rusland is vir ewig die vyand; altyd die skuldige al plak Navo eerste op Rusland se grens kry Rusland die skuld. Biden was betrokke by die onvergooi van ‘n vorige Ukraïne-president; op Maidan-plein saam met Nuland uitgehang maar dit is ook ‘n leuen. Net die VSA mag atoombomme gooi. Breinspoeling is deur die VSA uitgevind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.