Volledige skandering van Titanic-skeepswrak gemaak

(Foto: Atlantic Productions/Facebook)

Die eerste volgrootte 3D-skandering van die Titanic-skeepswrak wat Woensdag gepubliseer is, kan moontlik nog besonderhede onthul oor dié skip se noodlottige reis oor die Atlantiese Oseaan meer as ʼn eeu gelede.

Die hoëresolusiefoto’s, wat deur die BBC gepubliseer is, is ʼn rekonstruksie van die wrak wat op ʼn diepte van ongeveer 4 000 meter onder water lê. Dit bied uitstekende besonderhede en is geskep deur diepsee-kartering.

Die luukse passasierskip het gesink ná dit op sy nooiensvaart in April 1912 van Southampton, Engeland na New York, VSA ʼn ysberg getref het. Meer as 1 500 mense is oorlede.

Die skeepswrak is reeds omvattend ondersoek sedert dit vir die eerste keer in 1985 opgespoor is – sowat 650 km van die kus van Kanada. Kameras kon tot dusver egter nie die skip in sy geheel afneem nie.

Die rekonstruksie is in 2022 onderneem deur die diepsee-karteringsmaatskappy Magellan Ltd and Atlantic Productions. Hulle is besig om ʼn dokumentêre fliek oor die projek te maak.

Onderwatertuie wat met afstandbeheerders van ʼn spesialisskip beheer is, het meer as 200 uur lank die wrak op die bodem van die oseaan bestudeer. Meer as 700 000 foto’s is geneem om die skandeerbeeld te skep.

Die Titanic vertrek uit Southampton op 10 April 1912 (Foto: Francis Godolphin Osbourne Stuart via Wikimedia Commons)

Magellan se Gerhard Seiffert, wat die beplanning vir die ekspedisie gelei het, het aan die BBC gesê hulle kon nie aan enigiets raak nie, om seker te maak die wrak word nie beskadig nie.

“Die ander uitdaging is dat mens elke vierkante sentimeter moes karteer – selfs oninteressante dele. Op die oorblyfselveld moet mens selfs modder karteer, maar mens het alles nodig sodat mens al die ruimtes tussen die interessante voorwerpe kan vul.”

Die foto’s wys die wrak – boeg en agterkant – afsonderlik van mekaar lê, omring deur puin, asof dit uit die water gelig is. Selfs die fynste besonderhede is te sien, soos die reeksnommer op een van die skroewe.

Die nuwe skandeerbeelde kan meer lig werp op presies wat gebeur het met die skip. Geskiedkundiges en wetenskaplikes spook om ondersoek in te stel, aangesien die skip besig is om te vergaan.

“Nou sien ons uiteindelik die Titanic sonder menslike interpretasie; presies van bewyse en data,” het Parks Stephenson, wat al jare lank die Titanic bestudeer, aan die BBC gesê.

Volgens hom is daar “nog baie te leer” van die wrak wat “feitlik die laaste oorlewende ooggetuie is van die ramp”. “En sy het baie stories om te vertel.”

  • Klik hier om ‘n 3D-toer van die skip mee te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Samuel ·

Baie interessant en moes ‘n plaas se prys kos om die ondersoek te doen. Sou graag die dokumentêr wou sien.

Anna84 ·

Wow, was seker ‘n ongelooflike belewenis vir die mense wat daar was om dit af te neem!!

Ronél ·

Indrukkendwekkend…………….wat was hulle woorde toe die Titanic te water gelaat is………..”not even GOD can sink this ship”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.