‘Voorwerp’ oor Kanada afgeskiet

Justin Trudeau. Foto: (Justin Tang/The Canadian Press via AP)

ʼn Amerikaanse vegvliegtuig het ʼn onbekende voorwerp Saterdag oor Kanada afgeskiet. Dit is die tweede soortgelyke voorval in die Noord-Amerikaanse lugruim sedert ʼn vermoedelik Chinese spioenasieballon ʼn week gelede afgeskiet is.

Eerste minister Justin Trudeau het gesê ʼn gesamentlike operasie tussen Kanada en die VSA het daartoe gelei dat die voorwerp afgeskiet is. Dit is die jongste in ʼn rits raaiselagtige lugruimindringings.

“Kanadese en Amerikaanse vliegtuie is ontplooi en ʼn Amerikaanse F-22 het suksesvol op die voorwerp geskiet,” het Trudeau Saterdag op Twitter gesê.

Kort ná die voorwerp om 15:41 (2041 GMT) afgeskiet is, het lugvaartowerhede deel van die lugruim oor die noordwestelike Amerikaanse staat Montana gesluit ná hulle ʼn “onreëlmatigheid” op radar opgemerk het, het die Amerikaanse Noordelike Bevel gesê.

Die Noordelike Bevel het gesê Amerikaanse vegvliegtuie is uitgestuur, maar “kon nie die voorwerp identifiseer wat ooreenstem met die radarbespeuring nie”. Die lugruim is daarna weer oopgestel vir kommersiële vliegtuie.

Die voorwerp wat in die Yukon afgeskiet is, was “klein en silindries”, het Anita Anand, Kanadese minister van verdediging, gesê. “Die voorwerp het op ʼn hoogte van sowat 40 000 voet gevlieg, onwettig Kanada se lugruim betree en ʼn redelike bedreiging ingehou vir die veiligheid van burgerlike lugvaart.”

Trudeau het gesê Kanadese magte in die Yukon “sal nou die wrak van die voorwerp analiseer”.

Hy het ook met die Amerikaanse president Joe Biden gesels oor die jongste voorval. Anand het ook met haar Amerikaanse eweknie, Lloyd Austin, gesê.

Die jongste voorvalle in Alaska en die Yukon kom ná die VSA Woensdag gesê het dat Chinese spioenasieballonne, soos die een wat op 4 Februarie afgeskiet is, deel is van ʼn vloot wat oor vyf vastelande strek. Nato het ook sy kommer uitgespreek.

Anand sê egter dit sal “onverstandig wees” as sy in hierdie stadium sou spekuleer oor die oorsprong van die voorwerp”.

Die voorwerp wat oor die Yukon afgeskiet is, wat aan Alaska grens, kom ná vegvliegtuie nog ʼn voorwerp Vrydag aan die Amerikaanse noordkus naby die dorp Deadhorse afgeskiet het. ʼn Soektog na die oorblyfsels van dié voorwerp het Saterdag voortgeduur, maar is verhinder deur “Arktiese winde, sneeu en beperkte daglig”, het die Noordelike Bevel in ʼn verklaring gesê.

Pres. Joe Biden (Foto: Stefani Reynolds / AFP)

Die Pentagon kon nie enige verdere besonderhede verskaf oor die voorwerp se vermoëns, doel of oorsprong nie.

ʼn Reusagtige ballon met elektronika, wat die Pentagon as ʼn spioenasievoertuig beskryf het, het verlede maand oor Kanada en die VSA gevlieg. Daar was ʼn diplomatieke opstootjie met China nadat dié land eienaarskap bevestig het, maar aangedui het dit is ʼn “skadelose weerballon wat van koers af gevlieg het”.

Die ballon het op 28 Januarie die Amerikaanse lugruim in Alaska binnegekom, oor Kanada en groot dele van die VSA getrek. Dit is op 4 Februarie oor die Atlantiese Oseaan naby Suid-Carolina afgeskiet.

Die ballon het oor verskeie Amerikaanse weermaginstallasies gevlieg, insluitend dié met silo’s van kernpunt- interkontinentale ballistiese missiele.

Biden se besluit, om die ballon toe te laat om die land onverhinderd oor te steek voor dit oor water afgeskiet is, is veroordeel deur Republikeinse wetmakers. Volgens hulle moes dit, die oomblik toe dit die Amerikaanse lugruim betree het, afgeskiet geword het.

Federale reddingspanne van duikers en onbemande afstandbeheerde mini-duikbote, is steeds besig om na oorblyfsels van die ballon te soek in vlak kuswater, het die Noordelike Bevel gesê.

Amerikaanse beamptes sê foto’s van die ballon wys dit het opnametoerusting gehad wat telekommunikasie kon onderskep. Dit het ook ʼn sonkragpaneel gehad wat elektrisiteit aan verskeie sensors kan verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.