Wapenstilstandsooreenkoms met Israel in sig – Hamas

Rook borrel bo ʼn gebou in Gaza (7 Oktober 2023) (Foto: Mahmud Hams/AFP)

Ismail Haniyeh, leier van die Palestynse militante groep Hamas, het Dinsdag gesê ’n wapenstilstandsooreenkoms met Israel is in sig.

Bekommerde familielede hoop nou dit beteken dat die sowat 240 mense wat tydens Hamas se verrassingsaanval op Israel op 7 Oktober as gyselaar geneem is, eindelik vrygelaat kan word.

“Ons is naby om ’n ooreenkoms oor ’n wapenstilstand te bereik,” sê Haniyeh in ’n verklaring wat sy kantoor aan AFP gestuur het.

Israel het egter nie onmiddellik op dié stelling van Hamas gereageer nie.

Bronne van Hamas en die Islamitiese Jihad – wat ook aan die aanvalle deelgeneem het – het op voorwaarde van anonimiteit aan AFP gesê hul groepe het ingestem tot die voorwaardes van ’n wapenstilstand.

Die voorlopige ooreenkoms sluit na bewering ’n wapenstilstand van vyf dae in. Dit behels glo ’n wapenstilstand op die grond sowel as beperkings op Israeliese lugoperasies oor die suide van Gaza.

Ingevolge die beweerde ooreenkoms sal tussen 50 en 100 Israeliese burgerlike en buitelandse gyselaars vrygelaat word, maar geen militêre personeel nie.

In ruil daarvoor sal sowat 300 Palestyne uit Israeliese tronke vrygelaat word, onder wie vroue en kinders, sê AFP se bronne.

Volgens die Hamas- en Islamitiese Jihad-bronne sal die ooreenkoms ook toelaat dat tot 300 vragmotors met kos en mediese hulp Gaza binnegaan.

Die Amerikaanse president Joe Biden het ook Maandag gesê hy glo ’n ooreenkoms is naby.

Dit volg nadat Katarrese bemiddelaars gesê het hulle beweeg al hoe nader aan ʼn ooreenkoms om sommige van die 240 gyselaars te bevry wat sedert 7 Oktober deur Hamas-militante aangehou word.

Die Internasionale Komitee van die Rooi Kruis het Maandag gesê sy president het intussen na Katar gereis om met Hamas se Haniyeh te vergader.

’n Wapenstilstandsooreenkoms kan effense verligting bring vir burgerlikes in Gaza wat al ses weke lank te midde van ’n oorlog probeer oorleef.

Groot dele van Gaza is as deel van Israel se vergeldingsveldtog in lugaanvalle vernietig. Die Gazastrook is nou onder beleg, met die minimum kos, water en brandstof wat toegelaat word om die enklawe binne te gaan.

Israel het vroeër onderneem om met sy vergeldingsveldtog voort te gaan, Hamas te vernietig en te verseker dat al die gyselaars vrygelaat word.

“Ons sal nie ophou veg totdat ons ons gyselaars huis toe gebring het nie,” het die Israeliese premier Benjamin Netanyahu verklaar nadat hy vroeër familielede van die gyselaars ontmoet het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Marthinus W ·

Die Bybel is baie duidelik: geseend is die vredemakers. Die mens sal altyd veg en doodmaak, tot die laaste oordeel. Daarom moet ons juis “veg” vir vrede.

Martie Smartie ·

Stem saam Manie. Hoop Israel gebruik die paar dae om ammunisie en artillerie aan te vul en verder te ontplooi. Hamas moet uitgeroei word.

Tubac ·

Manie.
Beslis. Dink hulle nou dat jy 50 tot 100 sal aanvaar. Wat van die res.? Wonder of die res nog lewe.

Nettie ·

Ek stem saam met jou Marthinus. Die bloedlus onder ons Afrikaners is vir my skrikwekkend. Soos jy noem… God seën die wat VREDE maak, nie oorlog voer nie.

Twallie ·

Snaaks dat die Mossad nie die Hamas leiers wat so lekker lewe in Qatar al gaan besoek het nie.

Laksman ·

Nee wat….klink nie vir my na n goeie “deal” nie………sa Israel……speel klaar met Hamas!

M ·

Stem volmondig saam …. Amos 1 , eeue gelede geskryf, sê dit moet gebeur. Afgevee van die Aarde af….. dis al.

Renier ·

Laat al die gyselaars vry. Ek vertrou vir hamas so veel soos ek die ANC vertrou,glad nie.

Hennie Biebouw ·

Wat in op die oomblik in Gaza aangaan, is 100% voor die deur van Hamas. Die mense van Gaza het Hamas ingestem. Aksies het gevolge….

Nettie ·

“In ruil daarvoor sal sowat 300 Palestyne uit Israeliese tronke vrygelaat word, onder wie vroue en KINDERS, sê AFP se bronne.”

Hoe is hierdie aanvaarbaar? Hoekom word dit toegelaat? Een persoon (‘n Jood) het vertel sulke kinders mag gewoonlik nie eers besoeke van hul familie ontvang nie, en kry gewoonlik ook nie regshulp nie. Dit breek mens se hart.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.