Wêreld se oudste mens sterf

Kane Tanaka [Foto: STR, Jiji Press, AFP)

Kane Tanaka, die wêreld se oudste mens, is in die ouderdom van 119 jaar in haar vaderland, Japan, dood.

Sy is in 2019 deur Guinness World Records as die oudste lewende mens erken.

Tanaka is op 2 Januarie 1903 in die suidwestelike Fukuoka-streek van Japan gebore. Dit is die jaar waarin die Wright-broers vir die eerste keer gevlieg het en Marie Curie die eerste vrou geword het om ʼn Nobelprys te wen.

Curie het in 1903 saam met Henri Becquerel en haar man, Pierre Curie, die Nobelprys vir fisika verower, terwyl sy in 1911 die alleenwenner van die Nobelprys vir chemie was.

Tanaka het tot onlangs nog betreklik goeie gesondheid geniet, waar sy in ʼn ouetehuis gewoon het.

In haar jonger jare het Tanaka verskeie sake bestuur, insluitend ʼn noedelwinkel en ʼn ryskoekwinkel. Sy is in 1922 met Hideo Tanaka getroud en sy het geboorte gegee aan vier kinders. Sy het ook een kind aangeneem.

Tanaka het verlede jaar beplan om ʼn rolstoel te gebruik om aan die fakkelaflos vir die Olimpiese Spele in Tokio deel te neem, maar die Covid-19-pandemie het haar planne in die wiele gery.

Volgens inligting van die Wêreldbank het Japan die meeste bejaardes ter wêreld, met ongeveer 28% van die bevolking wat 65 jaar of ouer is.

Die oudste persoon wat deur Guinness geverifieer is, was Jeanne Louise Calment van Frankryk, wat in 1997 in die ouderdom van 122 jaar dood is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marius ·

Dis nou wat hul noem “steen oud”, meeste van ons sukkel om by 60 uit te kom…

Kirst ·

Ek beter nie so oud word nie. My pensioen gaan opraak as ek 93 slaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.