Wêreldrekordhouer sterf in motorongeluk

Kenia se Kelvin Kiptum vier sy oorwinning van die Chicago-marathon in Oktober 2023. (Foto: Kamil Krzaczynski)

Die Keniaanse atleet en wêreldrekordhouer vir die man wat ʼn marathon die vinnigste kan hardloop, het in ʼn ongeluk in sy tuisland omgekom.

Kelvin Kiptum (24), ʼn gunsteling vir die komende Olimpiese Spele in Parys, is Sondagaand omstreeks 23:00 dood toe sy motor op pad na die stad Eldoret gerol het. Sy afrigter, Gervais Hakizimana, was saam met hom in die motor en is ook op slag dood. ʼn Vroulike passasier is beseer, het Peter Mulinge, polisiewoordvoerder van die Elgeyo Marakwet-streek in Kenia, gesê.

Kiptum het die atletiekwêreld op sy kop gekeer toe hy in Oktober verlede jaar die Chicago-marathon in ʼn ongelooflike 2:00:35 gehardloop het, 34 sekondes vinniger as die destydse rekordhouer Eliud Kipchoge. Dit beteken hy het net minder as 3 minute per kilometer gehardloop. Dit was die derde marathon was die 23-jarige atleet nog ooit gehardloop het.

Mulinge het aan verslaggewers gesê Kiptum was agter die stuur van die voertuig toe hy beheer oor die voertuig verloor en die motor gerol het.

Nadat Kiptum die wêreldrekord gebreek het, het die Keniaanse president William Ruto hom as “waarskynlik een van die wêreld se beste sportmanne” en “ons toekoms” beskryf.

Wêreldatletiek het sy dood betreur en gesê sy atletiekdebuut was die vinnigste in die geskiedenis. “Ons betreur die verlies van een van die opwindendste vooruitsigte om die afgelope jare in padhardloop na vore te kom,” het Sebastian Coe, president van Wêreldatletiek, gesê. “ʼn Ongelooflike atleet wat ʼn ongelooflike nalatenskap agterlaat. Ons gaan hom baie mis.”

Kiptum en Kipchoge sou vir die eerste keer tydens die Olimpiese Spele teen mekaar meeding. Kiptum was ook van plan om reeds in April vanjaar ʼn marathon in onder twee ure te voltooi.

Kenia se tweemalige Olimpiese 800 m-kampioen, David Rudisha, het ook hulde aan Kiptum gebring en sy dood as ʼn “enorme verlies” beskryf.

Kiptum se dood is die jongste in ʼn reeks tragedies om Kenia se jong atlete te tref.

In 2011 is Kenia se marathon‑atleet Samuel Wanjiru dood kort nadat hy die Olimpiese titel in 2008 by die Beijing Olimpiese Spele verower het. Hy is dood weens ʼn harde hou teen die kop.

In 2021 is die langafstand-ster Agnes Tirop op die ouderdom van 25 dood in haar huis naby Eldoret gevind. Sy het verskeie steekwonde aan haar lyf gehad. Haar man, Ibrahim Rotich, word aangekla van haar moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jaco ·

Baie Tragies. Hy was op die punt om ‘n Marathon offisieel onder 2ure te hardloop.

Niklaas ·

Dit is duidelik ‘n reuse verlies vir Kenia se sport. Hy sou heel moontlik met die marathon goue medalje in Parys se 2024 Olimpiese Spele weggestap het.

George ·

@Jaco ek dink ook so. Eliud het gewys dis baie moontlik, en dit was vrek vinnig! 400m elke 1m8sek…vir 2 ure lank. Unbelievable.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.