WGO vergader weer oor aappokke

Tedros Adhanom Ghebreyesus. (Foto: Fabrice Coffrini/AFP)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sal weer sy kundiges oor aappokke byeenroep om te besluit of die voortslepende uitbreking van dié siekte nou as ʼn wêreldwye noodgeval – die hoogste waarskuwingsvlak – verklaar moet word.

Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die Verenigde Nasies (VN) se gesondheidsagentskap, het gesê hy sal ʼn tweede vergadering van die noodkomitee oor aappokke roep, aangesien meer as 6 000 gevalle nou in 58 lande bevestig is.

ʼn Oplewing van aappokke doen sedert Mei die ronde in dele van die wêreld waar die siekte nie endemies is nie.

“Ek is steeds bekommerd oor die omvang en verspreiding van die virus,” het Ghebreyesus tydens ʼn perskonferensie by die WGO se hoofkwartier in Genève gesê.

“Toetsing bly steeds ʼn uitdaging en dit is hoogs waarskynlik dat daar ʼn aansienlike aantal gevalle is waarvan ons nog nie bewus is nie.”

Die WGO se noodkomitee het reeds op 23 Junie vergader om te besluit of die uitbreking as ʼn wêreldwye noodgeval verklaar moet word, maar ʼn meerderheid van die komitee het bevind dat die situasie nog nie daardie drempel oorskry het nie.

“My spanne hou die data noukeurig dop; die noodkomitee sal dus byeengeroep word sodat hulle op hoogte is van die huidige epidemiologie en evolusie van die uitbreking van aappokkegevalle en die implementering van teenmaatreëls,” het Ghebreyesus gesê.

“Ek sal hulle in die week van 18 Julie bymekaar bring of vroeër indien nodig.”

Europa as episentrum

Volgens Ghebreyesus is Europa die huidige episentrum van die uitbreking, met meer as 80% van alle gevalle wêreldwyd wat hier aangeteken word.

In Afrika kom gevalle ook nou voor in lande waar dit nie voorheen algemeen was nie. Dit terwyl lande wat voorheen met die virus geworstel het, nou gebuk gaan onder ʼn rekordgetal gevalle.

Volgens die WGO het die aanvanklike uitbreking van aappokke geen epidemiologiese verbindings gehad met gebiede wat histories gevalle van aappokke aangemeld het nie. Dit dui daarop dat die oordrag van hierdie siekte al geruime tyd aan die gang is, maar nou eers deur gesondheidswerkers opgemerk is.

Die WGO se huidige plan om die verspreiding te bekamp is deur bewusmaking en lede van die publiek aan te moedig om allerlei beskermende maatreëls toe te pas.

“Ons werk tans saam met lande en entstofvervaardigers om die verspreiding van die entstof te koördineer, aangesien dosisse hiervan uiters skaars is en dit toeganklik moet wees vir mense wat in die grootste gevaar is om die siekte op te doen,” het Ghebreyesus gesê.

Hy het ook lede van die publiek geloof vir die video’s wat hul op sosiale media deel oor hul simptome en ervaring met aappokke.

“Dit is ʼn positiewe manier om die stigma af te breek oor ʼn virus wat enigiemand kan opdoen,” het hy bygevoeg.

Die grootste oorsaak van oordrag blyk steeds weens seksuele aktiwiteite onder mans te wees, hoewel aappokke nie ʼn seksueel oordraagbare siekte is nie. Die siekte kan onder meer ook deur respiratoriese deeltjies wat deur noue kontak oorgedra word, versprei word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Lourens CFG ·

Ongelukkig NIE onse regering nie, “M see, M do”. (Ek maak maar so voór mense bybedoelings bysit.)

Lourens ·

6,000 uit 8 miljard . . . Dit registreer nie eers as ‘n leesbare persentasie nie. (0.000075% van die wêreldbevolking)

Jacobus ·

Die ou se magspeletjies is om van siek te word. Kan nie wag om weer stewels op nekke te kry nie. Soos Lourens opmerk – klein persentasie in vergelyking met wêreld se kriminele magsbeheptes.

Antie Sarie ·

Mens weet nie of jy moet dokter of veearts toe gaan nie

Schalk ·

Seker omdat Bill Gates laas week in Suid Afrika was? Meeste mense het die truuk nou gesien van almal vrees injaag op grootskaal.

Witbaard ·

6000 gevalle uit 7.96 biljoen mense op aarde??? Het die WGO nie regte werk om te doen nie?

Francois ·

Aappokke is niks nuuts nie en is endemies in Oos en Sentraal Afrika met die DRC wat jaarliks die meester gevalle aanteken – gemiddeld 800 gevalle. . In 1988 was die voorkoms van Aappokke in DRC byvoorbeeld 0.63 per 10 000 mense en het toegeneem tot 11.26 / 10000 in 2007. 6 000 gevalle in die wêreld is ‘n voorkoms syfer van 0.0086 / 10000. Nog nooit is enige melding van Aappokke gemaak nie tot nou toe daar skielike meer gevalle in Westerse lande is.

Veronica ·

Seker weer n opgeblase foefie om die mensdom in te -ent en in te hok , van vryheid te beroof!!Hulle mis seker hul mags gevoel!

Yolandy ·

Ek trust hierdie WGO so genoemde spesialiste, wetenskaplikse en Dr glad en geheel en al noe. Hulle speel net yo-yo games met die mense se lewens, agv hulle vorig sogenoemde pandemie vetrou ek glad nie geen dr ensv nie.

Nettie ·

Vir die wat wonder wat gaan aan…. lees hulle “pre-planning” dokument daaroor. Netsoos die vorige keer het hulle ‘n “Event 201” gehou, en als mooi uiteengesit oor wat gaan kom in verband met hierdie nuwe ene. Dis hoekom ons maar nie ons maskers verbrand het nie…. :-(

Pietertjie ·

Hier gaan ons alweer. Wanneer vergader hulle oor Tuberkulose?

Nico ·

Hierdie storie van die WGO is net om die wêreld lam te lê, hulle speel saam Bill Gates, die Rockerfellers, Rotchilds en die meer wat in beheer is van wêreld se geldmarkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.