Will Smith bedank uit Oscar-organisasie ná klap

Will Smith het die Oscar vir beste akteur gewen. Hy het tranerig om verskoning gevra nadat hy die komediant Chris Rock op die verhoog geklap het oor ‘n grap wat hy gemaak het oor Smith se vrou, Jada Pinkett Smith. (Foto: Robyn Beck/AFP)

Will Smith het bedank uit die Academy of Motion Picture Arts and Sciences (Ampas) wat die Oscars uitdeel nadat hy die komediant Chris Rock Sondagaand tydens die Oscar-toekenningseremonie op die verhoog geklap het.

Smith het gesê sy optrede was “skokkend, pynlik en onverskoonbaar”.

“Die lys van diegene wat ek seergemaak het, is lank en sluit Chris, sy familie, baie van my dierbare vriende en geliefdes, almal wat die geleentheid bygewoon het, asook wêreldwye gehore by die huis in,” het Smith gesê.

“Ek het die vertroue van die akademie verraai. Ek het ander genomineerdes en wenners hul geleentheid ontneem om fees te vier en gevier te word vir hul buitengewone werk. Ek is hartseer.”

Ampas het Woensdag gesê Smith het geweier om die Oscar-toekenningseremonie te verlaat nadat hy Rock ten aanskoue van miljoene mense geklap het. Die akademie het met dissiplinêre optrede teen Smith, wat in flieks soos Ali, The pursuit of happyness en Bad boys gespeel het, begin.

Smith het tydens die aankondiging oor sy bedanking gesê hy sal enige verdere gevolge aanvaar wat die akademie se raad as gepas ag.

“Ek wil die fokus terugplaas op diegene wat aandag verdien vir hul prestasies en die akademie toelaat om terug te keer na die ongelooflike werk wat dit doen om kreatiwiteit en kunssinnigheid in die bedryf te ondersteun.”

Chris Rock en Will Smith op die verhoog tydens die 94ste jaarlikse Oscars-geleentheid in die Dolby-teater in Hollywood, Kalifornië, op 27 Maart 2022. Smith het vir Rock ‘n oorveeg gegee nadat dié ‘n grap oor sy vrou gemaak het. (Foto: Neilson Barnard/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Smith (53) het Rock geklap oor ʼn grap wat dié oor sy vrou, Jada Pinkett Smith, gemaak het. Rock was op die verhoog om die beeldjie vir beste dokumentêr uit te deel. Hy het na Pinkett Smith, wat ʼn kaalkop het weens haar stryd met alopesie (ʼn immuunsiekte wat haarverlies tot gevolg het), gewys en ʼn grap gemaak oor die fliek G.I. Jane.

Hoewel Smith eers gelag het, het Pinkett Smith se gesig boekdele gespreek en Smith het die verhoog betree om Rock aan te vat. Smith het hom ʼn harde klap deur die gesig gegee en weggestap, waarna hy weer vanuit sy sitplek uit die gehoor vir Rock geskree het: “Hou my vrou se naam uit jou f****n mond!”

Staande toejuiging gekritiseer

Will Smith en sy vrou, Jada Pinkett Smith. (Foto: Facebook)

Smith het kort nadat hy Rock geklap het sy eerste Oscar ontvang vir sy rol as Richard Williams, pa van die tennissterre Venus en Serena, in die fliek King Richard. Hy is staande toegejuig en sedertdien is daar hewige kritiek hieroor met talle wat meen Hollywood neem die voorval nie ernstig op nie.

Will Parker, vervaardiger van die geleentheid, het aan ABC gesê die staande toejuiging wat Smith ontvang het, was vir sy werk en het nie verband gehou met die voorval nie.

“Ek dink die mense in daardie vertrek wat opgestaan het, het opgestaan vir iemand wat hulle geken het, wat ʼn eweknie is, wat ʼn vriend is, wat ʼn broer is, wat ʼn meer as drie dekades lange loopbaan het en wat boonop die teenoorgestelde is van wat ons in daardie oomblik gesien het,” het hy gesê.

“Ek dink nie dit was mense wat enigsins iets rakende daardie oomblik toegejuig het nie. Al hierdie mense het hul vriend op sy absoluut slegste oomblik gesien en gehoop dat hulle hom kon aanmoedig en ophef en dat hy op die een of ander manier sou probeer om dit beter te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

andre ·

Kan ons nou maar van die onderwerp afstap, dit raak regtig afgesaag om daagliks hieroor te lees, sekerlik is daar ander gebeure wat meer nuuswaardig is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.